Lloyd nou onder die 50 bestes

Lloyd Harris. Foto: ANA.

Daar was die oorwinnings teen Stan Wawrinka en Dominic Thiem, die Dubai-eindstryd en die eerste sege in ’n ATP 1000-toernooi in Miami.

Nou het Suid-Afrika se Lloyd Harris nóg ’n lekker mylpaal bereik. Hy tel vir die eerste keer in sy jong loopbaan onder die voorste 50 spelers ter wêreld.

Volgens die jongste ATP-wêreldranglys het die 24-jarige speler nog twee plekke geklim om 50ste op die punteleer te lê.

’n Besering het beteken dat hy aan die Miami-opekragmeting teen Roberto Bautista Agut moes onttrek, maar in die aanloop tot die wedstryd het die jong Kapenaar van die beste tennis van sy lewe gespeel.

“Ek speel die soort tennis wat ek nog altyd wou speel, maar terselfdertyd weet ek dat ek nog kan verbeter. Eintlik maak dit my baie opgewonde omdat ek weet ek kan verbeter, selfs wanneer ek baie lekker speel,” het Harris gesê.

Intussen is Duitsland se Alexander Zverev se drome bewaarheid: Hy is deesde bo Roger Federer op die wêreldranglys.

Die Duitser het die wêreldranglys as ’n “deurmekaarspul” bestempel en gevra hoe kan die 39-jarige Switserse tennismeester, ondanks ’n lang afwesigheid, steeds bo hom op die ranglys wees.

In Federer se afwesigheid was Zverev ’n finalis by die Amerikaanse Ope en die Parys-meesters, terwyl hy ook met twee ATP-titels in Keulen weggestap het.

“Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek is Roger Federer se grootste ondersteuner, maar hoe is dit moontlik dat hy vir ’n jaar nie speel nie en steeds bo my op die wêreldranglys is?” het Zverev destyds gevra.

Nou ja, hy het so pas plekke met Federer geruil om die sesde voorste manstennisspeler ter wêreld te wees.

  • Die ATP-wêreldranglys:
  1. Novak Djokovic
  2. Daniil Medvedev
  3. Rafael Nadal
  4. Dominic Thiem
  5. Stefanos Tsitsipas
  6. Alexander Zverev
  7. Roger Federer
  8. Andrey Rublev
  9. Diego Schwartzman
  10. Matteo Berrettini

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.