Lloyd nou teen 19-jarige ná Murray besering

Lloyd Harris. (AP Photo/Tertius Pickard).

Suid-Afrika se Lloyd Harris sal nou vandag teen die VSA se Emilio Nava te staan kom nadat ’n besering weer eens Andy Murray se toernooi-drome gekelder het.

Volgens die voormalige wêreld-no. 1-speler het hy onverwags ’n liesbesering opgedoen.

“Daar was geen probleme toe ek vir die toernooi voorberei het nie en ek het Vrydag nog sonder enige probleme in die gimnasium gesweet. Maar toe word ek om 03:00 wakker met ’n steekpyn in my lies en ek kon kwalik loop,” het Murray gesê.

“Dit word elke dag darem beter, maar ek het nog nie genoegsaam herstel om mededingende tennis te speel nie. Ek het Vrydag laas geoefen.”

Die 33-jarige speler het al twee keer met die louere in Miami weggestap toe hy onderskeidelik met Novak Djokovic en David Ferrer afgereken het.

Die verwikkeling beteken dat Harris vandag nou teen Nava sal moet speel; ’n 19-jarige speler wat 556ste in die wêreld gekeur is.

Dit sal die eerste keer wees wat die twee spelers kragte op die baan meet.

Harris ry egter op die kruin van die golf nadat hy onlangs in die eindstryd van die Dubai-ope teen Aslan Karatsev gespeel het.

Die 24-jarige Suid-Afrikaner het onder meer met Dominic Thiem, Kei Nishikori en Denis Shapovalov in sy opmars na die eindstryd afgereken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.