Lloyd se droomlopie duur voort

Lloyd Harris vier sy oorwinning in die openingsronde van die Amerikaanse Ope. Foto: Matthew Stockman/Getty Images via AFP.

Suid-Afrika se Lloyd Harris druk beslis nou sy stempel op die internasionale tennisverhoog af.

Die jong Kapenaar het gister met Rusland se Karen Khachanov (28ste op die wêreldranglys) in die openingsronde van die Amerikaanse Ope in New York afgereken. Die wedstryd het weliswaar meer as drie uur geduur, maar die eindtelling was 6-4, 1-6, 4-6, 6-3 en 6-2 in Harris se guns.

Hy speel môre in die tweede ronde teen die VSA se Ernesto Escobedo.

Die 25-jarige Amerikaner het sy eerste wedstryd teen Pablo Cuevas in drie stelle gewen. Die eindtelling was 6-1, 6-3 en 6-1.

’n Seisoen of wat gelede sou Harris se oorwinning dalk as ’n opskudding beskou word, maar hy het in 2021 reeds met ’n paar sterre klaargespeel.

Benewens Khachanov het hy met Stan Wawrinka, Dominic Thiem, Kei Nishikori, Denis Shapovalov, Grigor Dimitrov, Gaël Monfils en Rafael Nadal afgereken.

“Ek speel tans met baie selfvertroue en ek wil aanhou om goeie tennis in Amerika te speel,” het die 24-jarige speler op die vooraand van die New Yorkse toernooi gesê.

Intussen sal Kevin Anderson in die tweede ronde teen Diego Schwartzman te staan kom nadat hy in sy eerste wedstryd 49 kishoue teen Jiri Vesely afgestuur het.

Schwartzman het egter hul laaste ontmoeting (op Roland Garros in 2018) met 1-6, 2-6, 7-5, 7-6 en 6-2 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.