Lloyd se jaar word net beter

Lloyd Harris se droomlopie duur voort! Foto: Kena Betancur/AFP.

Lloyd Harris kon sekerlik nie vir ’n beter jaar gewens het nie. Die jong Suid-Afrikaner het in 2021 onder meer met Rafael Nadal, Stan Wawrinka, Kei Nishikori en Denis Shapovalov (x2) afgereken.

Nou het sy jongste sege – teen die VSA se Reilly Opelka – hom na die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope gestuur. Nóg ’n eerste in sy loopbaan.

Die 24-jarige Kapenaar het die kragmeting met 6-7, 6-4, 6-1 en 6-3 gewen. En, om eerlik te wees, hy het selfs in die eerste stel na die beter speler op die baan gelyk.

Harris het 36 kishoue afgevuur en ’n magdom punte sommer so met sy eerste afslaan verdien.

Daarteenoor het Opelka in ’n effense eentonige ritme verval – omtrent ná elke afslaan het hy na die net gestorm met die hoop om die Suid-Afrikaner uit te oorlê; Harris was egter meer as opgewasse vir die taak.

“Ek het deurgaans goed afgeslaan en selfs toe ek die eerste stel verloor het, het my selfvertroue nie ’n knou gekry nie. Dit is ’n wonderlike gevoel,” het Harris gesê.

Alexander Zverev, die speler teen wie hy in die Cincinnati-meesterstoernooi verloor het, wag nou vir hom in die kwarteindstryd.

Die Duitser het trouens al twee van hul vorige kragmetings gewen, maar Harris is nie verniet die Dawid van die tennisbaan wat gereeld met ’n Goliat afreken nie.

Intussen het Novak Djokovic ook vir die kwarteindstryd van die toernooi gekwalifiseer nadat hy die VSA se Jenson Brooksby geklop het.

Die eindtelling was 1-6, 6-3, 6-2 en 6-2 in die 34-jarige Serwiër se guns. Hy speel nou teen Italië se Matteo Berrettini – die man met wie hy in die Wimbledon-eindstryd afgereken het – in die kwarteindstryd.

“Ek het glad nie goed begin nie, terwyl Jenson op die aanval was. Ek het met my ritme gesukkel en ’n spul ongedwonge foute op die baan begaan,” het die wêreld se voorste speler gesê.

Maar Novak Djokovic wen doodeenvoudig net wedstryde. Hy is vanjaar nog onoorwonne in Grand Slam-toernooie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Sooo bly vir sy part. Hy is so n rustige speler. Hy kon die eerste stel ook gewen het, onnodige foute op sy eie afslaan vir die stel, het hom gekos. Al verloor hy teen die duitser sal 2021 n hoogte punt van sy loopbaan wees. Hy sal nog baie tennis speel en net beter word. Sterkte vir die volgende game.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.