Lloyd spring 29 plekke op ranglys

Suid-Afrika se Lloyd Harris. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Na Lloyd Harris se skitterende vertoning in die Dubai-ope – waar hy in die eindstryd teen Rusland se Aslan Karatsev vasgeval het – het hy 29 plekke op die ATP-wêreldranglys geklim.

Die 24-jarige Suid-Afrikaner is nou die 52ste voorste speler ter wêreld nadat hy onlangs onder meer met Stan Wawrinka, Dominic Thiem, Kei Nishikori en Denis Shapovalov afgereken het.

Hy is volgende in die VSA in aksie waar hy Andy Murray in die eerste ronde in Miami die stryd aansê.

Die Skot het al twee keer in Miami koning gekraai – in 2009 en in 2013 – en hoewel hy deesdae op die baan sukkel, bly hy steeds ’n gevaarlike speler.

Volgens Greg Rusedski, ’n voormalige Britse no. 1-speler, het Murray steeds die dryfkrag om groot toernooie te wen.

“Andy is sekerlik een van mededingendste spelers op die internasionale verhoog. Daarbenewens is Miami een van sy gunstelingtoernooie en jy moet hom nooit onderskat nie,” het Rusedski gesê.

Tog speel Harris die beste tennis van sy loopbaan en sy onlangse sukses maak hom ewe gevaarlik – selfvertroue is immers ’n belangrike wapen om in jou arsenaal te hê.

Hoewel Karatsev net te sterk was, het die Suid-Afrikaner die geskiedenisboeke herskryf deur die eerste kwalifiserende speler te word om die eindstryd in Dubai te haal.

“Hierdie week speel ek die tipe tennis wat ek nog altyd wou speel, maar ek weet dat ek nog kan verbeter. Eintlik maak dit my baie opgewonde omdat ek weet dat ek kan verbeter, selfs wanneer ek baie lekker speel,” het Harris gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cecilia ·

Baie geluk Lloyd!
Jy maak n SA hart trots.
Ek weet hoe moeilik dit is mt Tennis wat altyd aan d kortste end trek as dit kom by borge , afrigting en kompetisies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.