Lloyd staan sterk teen Stan

Suid-Afrika se Lloyd Harris het vir Stan Wawrinka, een van die wêreld se voorste spelers, in die eerste ronde van die Katar-ope geklop. Foto: Twitter.

Dit het Lloyd Harris twee uur en 41 minute geneem om waarskynlik die beste tenniswedstryd van sy jong loopbaan te speel.

Die Suid-Afrikaner het vir ’n opskudding en ’n half gesorg toe hy Stan Wawrinka met 7-6, 6-7 en 7-5 in Doha ore aangesit het om sy plek in die tweede ronde van die Katar-ope te bespreek.

“Ek het nie eintlik woorde om te beskryf hoe ek tans voel nie. Stan was een van my helde toe ek grootgeword het en om net teen hom te speel was reeds ’n prestasie,” het Harris gesê.

Harris het 11 kishoue afgevuur en het uitstekend in die derde stel terugbaklei om die wedstryd te wen.

“Ek was vasberade en gereed vir enigiets. Ek is veral trots op die wyse waarop ek teruggeveg het nadat ek die tweede stel verloor het. Ek dink ek speel goeie tennis deesdae en ek hoop van harte dat ek op hierdie momentum kan voortbou.”

Die 24-jarige Suid-Afrikaner sal in die tweede ronde teen Hongarye se Marton Fucsovics te staan kom.

Intussen sal Roger Federer later vandag teen Brittanje se Daniel Evans in aksie wees.

Federer was laas in die Australiese Ope van 2020 te siene waar hy teen die uiteindelike wenner, Novak Djokovic, vasgeval het. Sedertdien het die wêreldwye Covid-19-pandemie en ’n paar knieoperasies hom langs die baan gehou.

Maar indien alles in Doha volgens plan verloop, kan hy teen die wêreld se no. 4-speler, Dominic Thiem, te staan kom.

Federer het ’n video op sosiale media geplaas waarin hy onder meer oor sy opwinding en dankbaarheid praat om weer te speel.

“Dit was ’n lang en moeilike pad en ek weet dat ek nog nie by die eindstreep is nie, maar dinge gaan beter. Ek het goed vir die toernooi voorberei,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.