Louisa skitter op internasionale fiksheidsverhoog

Louisa Britz het die Suid-Afrikaanse vlag in Suid-Korea laat wapper. Foto: Verskaf.

Terwyl Suid-Afrikaanse sportmanne en -vroue in oorsese kompetisies sukkel – dink aan die atlete in Doha en die Protea-krieketspan in Indië – is daar genadiglik ’n fikse meisie wat die landsvlag dapper laat wapper.

Louisa Britz het pas in Suid-Korea haar mooiste (én fiksste) voet voorgesit en die goue medalje in haar bikini-kategorie by die PCA Korea Super Series gewen. Sy het ook met ’n algehele tweede plek weggestap.

Sy vertel dat die fiksheidsgogga haar ses jaar gelede gebyt het, maar dat sy eers in 2017 ernstig aan kompetisies begin deelneem het.

Deesdae oefen sy ses dae per week en sy vertel dat haar fiksheidsroetine reeds soggens om 03:00 begin wanneer sy van Centurion na Body Guru in Montana ry, waar sy onder die bekwame leiding van Adri en Hennie Kotze oefen.

Normaalweg oefen sy vir 45 minute met gewigte, waarna sy vir ’n halfuur die kardio-masjiene aandurf.

Fiksheidsghoeroes van reg oor die wêreld sal vir jou vertel dat om gesond te eet dalk selfs belangriker as oefening is, en Louisa stem heelhartig saam met hulle.

Sy weet egter dat dit baie moeilik kan wees om te begin om reg te eet, maar sê dat dinge later al hoe makliker word – mits jy natuurlik oor die nodige uithouvermoë beskik.

Louisa (regs) spog met haar toekenning. Foto: Verskaf.

“Ek dink my gesond eet-reddingsboei is die feit dat ek nog altyd relatief gesond geëet het; dieetkos is dus nie eintlik vir my ’n straf nie. Die uiteindelike mikpunt is dat dit deel van jou lewenswyse word, want ’n gewone dieet het altyd ’n begin- en ’n eindpunt. Sodra jy hierdie kopskuif kan maak, is die stryd reeds halfpad gewonne,” het sy gesê.

Maar verlang sy nie soms na die soettand-sonde van ’n Oreo McFlurry nie? “Ek mis wortelkoek en rooi cappuccino’s die meeste!”

Haar fiksheidverhoog-drome is egter baie meer lonend as ’n vinnige slukkie romerige koffie – sy is weer na die Wêreldkampioenskap in Mei 2020 uitgenooi.

Tog besef sy dat die pad na sportsukses soms ’n eensame pad kan wees en juis daarom is sy baie dankbaar vir haar man, familie en vriende se ondersteuning.

“Ek glo dat dit elke atleet se droom is om professioneel deel te neem. Maar terselfdertyd wil ek ook soveel as moontlik tyd saam met my man en familie deurbring wat my deur dik en dun bygestaan het. Ek wil vir mense wys dat om gesond te leef ’n lewenswyse kan wees en dat dit nie nodig is om jouself tot uiterstes te wend om gesond en gebalanseerd te lewe nie.”

Knaag die senuwees nog wanneer sy op die verhoog staan?

“Já! Daardie halfuur tot ’n paar minute voor opgaan is gewoonlik vir my die ergste. Dit voel vir my altyd asof ek ’n atleet is wat in die wegspringblokke gereedstaan om weg te spring.

“Glo my gerus wanneer ek vir jou sê dat elke meisie wat op daardie verhoog staan, ’n storie het om te vertel. Ek weet dat nie almal op die verhoog wil staan of só lyk nie, maar elke vrou wil goed voel oor haarself en gemaklik wees in haar eie lyf. Soms is dit net ’n tikkie inspirasie wat nodig is om jou weer daardie selfvertroue-hupstoot te gee, en as ek daarmee kan help, is my droom verwesenlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AB ·

Baie geluk met jou prestasie! Kry jy nie skaam om daai vlag van moord en doodslag op blankes so vas te hou nie?

Gert van Wierdapark ·

Ek bly ook in Centurion, maar gaan wraggies nie 03:00 op staan vir oefensessies nie…. Eish, maar vir so bikini bou, verdien sy die prestasie!! Baie geluk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.