Luister: Giniel skop stof op in sy Toyota

’n Stofstreep soos wat die voertuie jaag. (AP Photo/Bernat Armangue)

Gooi die water en gooi die sand, want Giniel de Villiers is aan die brand! Die 47-jarige Suid-Afrikaner het gister in sy warmgemaakte Toyota die tweede skof van die moordende Dakar-wedren gewen.

Ná hy Sondag 14de gedurende die eerste skof klaargemaak het, was hy gister die eerste bestuurder om die roete van 367 km te voltooi. Hy het die afstand in ’n tyd van 3:37:20 klaargemaak, amper vier minute vinniger as Argentinië se Orlando Terranova in die tweede plek.

Dit was De Villiers se 15de skofoorwinning van sy loopbaan en hy het munt geslaan uit Yazeed Al‑Rajhi se navigasiefout. Dié flater het vir Al‑Rajhi 13 minute sowel as die skofoorwinning  gekos.

Giniel de Villiers in aksie tydens verlede jaar se Dakar in Peru. Hy het gister die tweede skof van die 2020-weergawe gewen. Foto: ANA.

“Dit het vandag baie beter as gister gegaan en ons het ’n mooi skoon skof gehad. Ons het vandag ’n paar goeie navigasiedinge gedoen en ons het beslis voordeel daaruit getrek,” het De Villiers gesê.

Dinge was egter minder rooskleurig vir die voormalige Formule 1-wêreldkampioen, Fernando Alonso.

Een van die 38-jarige se bande het in die slag gebly toe hy per ongeluk ’n klip met sy wiel getref het. Die voorval het hom twee en ’n half uur op die horlosie gekos.

“Vandag was ons navigeerwerk absoluut perfek, maar sigbaarheid was ’n nagmerrie agter die ander voertuie,” het Alonso gesê.

Fernando Alonso. (AP Photo/Bernat Armangue)

“Ons het ongeveer 100 km blindelings rondgery en kon glad nie veel sien nie totdat ons ’n klip met ons Toyota se voorwiel getref het. Ek is egter beslis bereid om die wedren te voltooi. Die hoofdoelwit is om my eerste Dakar klaar te maak sonder enige verder drama.”

Vandag se skof strek oor 489 km.

Dan het Botswana se Ross Branch in die motorfietsskof koning gekraai. Dit was sy eerste Dakar-skofsege en hy het Sam Sunderland met 84 sekondes getroef.

  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat by die Dakar gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrika deelnemers gaan. Luister die klankinsetsel bo aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.