Luister: Peterhansel het beslis woestyn-woema

Carlos Sainz. (AP Photo/Bernat Armangue).

Stephane Peterhansel het uiteindelik sy stempel op vanjaar se Dakar-wedren in Saoedi-Arabië afgedruk toe hy gister die vierde skof gewen het.

Die suksesvolste jaer in die Dakar-geskiedenis het vir die ander deelnemers gewys waar Dawid die wortels gegrawe het en het amok in die tweede gedeelte van die 453 km-skof gemaak; selfs ná ’n navigasie-flater en ’n pap band.

“Ek en my nuwe spanmaat, Paulo Fiuza, begin makliker te kommunikeer en dinge is besig om beter te word. Die nuwe Dakar is briljant en beskik oor al die bestanddele vir ’n briljante wedren: ongelooflike natuurskoon, moeilike navigasie-stukke en oorgenoeg kopkrap-hindernisse,” het Peterhansel gesê.

Die algehele voorloper, Spanje se Carlos Sainz, het konserwatief bestuur maar steeds genoeg gedoen om sy voorsprong te behou.

“Die laaste 100 km was beslis die taaiste uitdaging nóg in die Dakar gewees. Dit was eintlik ’n bietjie belaglik; dit het amper soos ’n ruimtelandskap met al die klippe gelyk. Wanneer mens só ’n skof sonder te veel moeilikheid voltooi, voel dit asof jy gewen het,” het Sainz gesê.

F1-kampioen Fernando Alonso het ’n slegte dag agter die stuur gehad en hy is al amper drie uur agter die voorlopers.

Jose Ignacio Cornejo is die motorfietswenner nadat Sam Sunderland met vyf minute beboet is omdat hy te vinnig gejaag het.

Botswana se Ross Branch – wat die tweede skof gewen het en in die derde skof sy skouer beseer het – het derde klaargemaak.

Suid-Afrika se Giniel de Villiers is sesde ná die vierde skof, ’n rapsie meer as 11 minute agter Sainz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wenner ·

wat se strooi is dit, te vinnig gejaag, is dit nie deel van wen nie, hoe gouer jy klaarmaak, hoe meer tyd het jy more vir die wegspring of as iets sou gebeur langs die pad, dan het jy tyd tot jou beskikking

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.