Maagkwaal, Shapovalov stuit Nadal nie

Rafael Nadal vier sy oorwinning in die kwarteindstryd van die Australiese Ope. Foto: William West/AFP.

Die geskiedskrywer Flavius Josefus het donkiejare terug gesê dat die Romeinse legioene só hard aan hul oorlogsgereedheid gewerskaf het, dat hul driloefeninge met onbloedige gevegte vergelyk kan word en hul veldslae weer met bloedige driloefeninge.

Druk nou die versnelknoppie na 25 Januarie 2022 en Rafael Nadal het weliswaar nie ’n swaard en skild benodig om vir Denis Shapovalov in die kwarteindstryd van die Australiese Ope te klop nie, maar hy het wel ’n flitsende raket en emmersvol durf tot sy beskikking gehad.

Die 35-jarige Spanjaard, wat bekend is vir sy strawwe oefensessies, het die wedstryd in vyf stelle met 6-3, 6-4, 4-6, 3-6 en 6-3 gewen om vir sy sewende Australiese Ope-halfeindstryd in Melbourne te kwalifiseer.

Nadal het uitstekend begin om die eerste twee stelle op ’n drafstap te wen, maar die Melbournese hitte en ’n maagprobleem wat Nadal skynbaar ontwikkel het, het gesorg dat die jong Kanadees weer sy pad in die wedstryd kon oopveg.

Shapovalov het twee agtereenvolgende stelle gewen, maar die Spanjaard het in die beslissende stel doodeenvoudig net weer na ’n hoër rat geskakel.

Die uiteinde?

Vreugdevure in die Nadal-hoek, terwyl Shapovalov uit frustrasie sy raket op die baan neergesmyt het.

“Ek was poegaai ná die eerste twee stelle. Dit was ’n baie taai en warm dag, terwyl Denis ongelooflik aggressief begin speel het,” het Nadal ná die afloop van die wedstryd gesê.

Mediese beamptes het die Spanjaard ook gereeld besoek en hy het ’n pilletjie of twee gekry om af te sluk.

“Ek het daarna ietwat beter begin voel, gelukkig is die halfeindstryd eers Vrydag – ek is immers nie meer 21 jaar oud nie! Maar om alles in perspektief te plaas: Ek het ’n paar weke gelede gewonder of ek ooit weer mededingende tennis sou speel; om nou hier voor julle te staan is ’n reusegeskenk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie ·

Goeie more Maroela Media span. In julle berig se julle dat Nadal vir die eindstryd kwalifiseer, dit moet eintlik die half eindstryd wees????? Dankie vir julle goeie berigte wat julle vir ons die lesers skryf. Mooi dag vir julle

Megan Swart ·

Dagsê Hennie
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Hennie ·

Ag enige mens kan n foutjie maak! Mooi dag vir julle en dankie

johan ·

Mens kan maar net wonder wat in daai pilletjies was. Een van sy eie kabinet minister het nie verniet self vertel dat Nadal soms met middels oortree nie. Sy opponent het net duidelik die oorhand gehad toe Nadal ‘n breek vat om pilletjies te drink en te rus….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.