Machac laat Djokovic sweet in Dubai

Novak Djokovic is steeds onoorwonne in 2023. Foto: Twitter.

Dit was dalk nie ʼn seepgladde vertoning teen Tomas Machac in Dubai nie, maar Novak Djokovic het nogtans sy 18de tenniswedstryd op ʼn streep gewen.

Die wêreld se voorste speler het met tye klippe gekou teen die jong Tsjeggiese speler, maar hy het steeds sy openingskragmeting in die Dubai-tenniskampioenskap met 6-3, 3-6 en 7-6 beklink.

“Tomas het beslis nie soos iemand gespeel wat 130ste op die ATP-ranglys is nie en hy het dinge moeilik vir my op die baan gemaak. Maar gelukkig kon ek na ʼn hoër rat oorskakel,” het Djokovic gesê.

Die 35-jarige Serwiër het aansienlik meer wenhoue (44 teenoor Machac se 34) gespeel, maar hy het so amper ʼn voorsprong van 4-1 in die beslissende stel deur sy vingers laat glip.

“Fisiek kan ʼn mens altyd beter wees. Ek verwag immers dat ek altyd op alle suiers moet vuur – veral wat my voorbereidingswerk en die gehalte van my spel betref.”

Djokovic het vroeër die Australiese Ope in Melbourne met ʼn skeur in sy linkerdyspier gewen en hy het ná die Machac-wedstryd erken dat hy nog nie op sy beste is nie.

“Ek het met ʼn besering gesukkel en dus nie veel tennis in aanloop tot die Dubai-toernooi gespeel nie. Tog hoop ek dat ek beter sal word hoe meer ek speel.”

Hy het onlangs Steffi Graf se rekord vir die meeste weke boaan die internasionale tennisranglys verbeter. Djokovic swaai nou al vir 378 weke die septer as die voorste manspeler.

“Dit is ʼn ongelooflike voorreg om tennis te speel. As ʼn jong seun in Serwië het ek daarvan gedroom om op Wimbledon te wen en om die wêreld se beste speler te wees. Ek voel gevlei om saam met Steffi as een van die sport se groot name gereken te word.”

Djokovic speel later vandag teen Tallon Griekspoor in die volgende ronde in Dubai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.