Madibaz-verrassing kos Kovies halfeindplek

Maties klop Kovsies 54 - 38 Foto: Varsity Sports SA, Facebook

Maties klop Kovsies 54 – 38 Foto: Varsity Sports SA, Facebook

Vier spanne het Donderdag hul ligaronde van die Varsitynetbalreeks voltooi en in albei gevalle het die sewende wedstryde van dié spanne verrassings opgelewer.

Maties het die Kovsies 54 – 38 geklop, die eerste keer sedert 2005 wat die Kovsies die knie voor die Maties moes buig. Ondanks die oorwinning het Kovsies die eerste keer in die vierjarige bestaan van die toernooi nie die halfeind gehaal nie.

Maar die Madibaz se verrassende oorwinning toe hulle teen die Pukke 38 – 34 gewen het, was die hoogtepunt van die aand. Die Pukke het sonder drie van sy sterre gespeel wat reeds by die nasionale span moes aansluit om in die Diamant-toernooi te speel wat Sondag begin.

Met hierdie oorwinning het die Madibaz die vierde plek in die reeks ingeneem, twee ligapunte voor die Kovsies.

♦  Die ander vier spanne sal Maandag hulle oorblywende ligawedstryd in die Rembrandtsaaal in Pretoria speel. Tuks kom teen VUT te staan en UJ teen die Ikeys.

Tuks behoort die liga onoorwonne af te sluit teen VUT wat nog na sy eerste sege soek, en UJ en die Ikeys staan nie een meer ʼn kans om ʼn halfeindstryd te haal nie.

♦  Die halfeindstryde op Maandag 10 Oktober is ná Donderdagaand se uitslae reeds bepaal. Tuks sal teen die Madibaz in Pretoria speel en die Pukke kom in Stellenbosch teen die Maties te staan.

Die eindstryd tussen die twee wenners is op 17 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.