Madrid-Ope: Alcaraz skok ook vir Djokovic

Spanje se Carlos Alcaraz vier die oorwinning teen Serwië se Novak Djokovic (7 Mei 2022) (Foto: Gabriel Bouys/AFP)

Dit was een van daardie sport-oomblikke waarvan jy eendag jou kleinkinders kan vertel.

Die sprokiesverhaal van die 19-jarige Spaanse tennis-sensasie Carlos Alcaraz het Saterdag in Madrid voortgeduur toe hy die wêreld se voorste manspeler, Novak Djokovic van Serwië, met 6/7(7/5) 7-5 7-6 in ʼn titaniese halfeindstryd van die Madrid-Ope geklop het.

Alcaraz is nou die jongste speler in 17 jaar wat die wêreld se voorste manspeler kon troef en dit was ook die eerste keer dat ʼn speler op agtereenvolgende dae vir Rafael Nadal (kwarteindronde) en Djokovic (halfeindronde) op klei kon klop.

Die atmosfeer op Caja Magica was gelaai. Daar was Spaanse passie en durf, want duisende ondersteuners het die jongeling aangemoedig.

Ná drie ure en 35 minute het hulle besef dat die kroonprins nou die kroon by die Koning van Klei, Rafael Nadal, oorgeneem het.

Alcaraz se uitstaande seisoen ken geen perke nie nadat hy reeds vier titels vanjaar gewen het wat twee Meesters-titels insluit.

Ná sy onlangse sege in Miami het dit hom die eerste keer tot die toptien in wêreldtennis laat opskuif en sy oorwinning oor Djokovic beteken dat hy nou die koppe van ses van die wêreld se toptienspelers laat kantel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Treurwilger

Veels geluk, dit wíl gedoen wees!