Magda glimlag oor Wêreldkampioenskap-avontuur

Magda Nieuwoudt in haar Suid-Afrikaanse kleure. Foto: Verskaf.

’n Mens deel sommer in Magda Nieuwoudt se opgewondenheid wanneer sy oor die afgelope Wêrelddriekamp-kampioenskap (langafstand) in Almere praat.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het die internasionale sportkalender kwaai ontwrig en die Nederlandse avontuur was die eerste keer dat sy nou weer oorsee kon deelneem.

“Ek moes myself heeltyd knyp om seker te maak dis nie ’n droom nie. Dit was egter ’n taai uitdaging omdat dit die eerste keer in twee jaar is dat ek op hierdie vlak kon meeding. Daarteenoor het die ander meisies reeds ’n spul Europese kompetisies agter die blad gehad,” het Nieuwoudt net so vóór haar vlug terug na Suid-Afrika gesê.

’n Twaalfde plek is egter glad nie te versmaai nie, maar soos enige ander sportster is sy oorgehaal om dinge voortaan vinniger en beter te doen.

Foto: Verskaf.

“Ek kan ongetwyfeld verbeter; ek moet seker minstens 20 minute aan my draftyd sny. Tog is dit baie belangrik om nie in ’n waar-kan-ek-verbeter-kringloop vasgevang te word nie; jy moet jouself ook ’n klop op die skouer kan gee.”

En daar was beslis ’n paar slaggate op Nieuwoudt se pad na uiteindelike kampioenskapsukses.

Sy het in Julie positief vir Covid-19 getoets en daarna het sy ’n spul toetse en hartsonars ondergaan omdat sy drie jaar gelede met ’n hartdefek gediagnoseer is. Sy moes destyds op só ’n manier oefen dat haar hart nie vinniger as 120 slae per minuut klop nie.

“Ek is ongelooflik geseënd om te kon deelneem. Ja, ek het eintlik net vier weke voorbereidingstyd gehad, maar ek voel goed.”

Is dit nie koud om in daardie Europese waters te swem nie?

Normaalweg behoort dit deksels koud te wees en ’n paar Nederlanders het haar juis vooraf oor die bibberweer gewaarsku. ’n Sonnige Amsterdam het haar egter begroet toe sy uit die vliegtuig klim.

Foto: Verskaf.

“Ek beskou myself eintlik as die sonskynkind omdat ek al vantevore in Edinburgh deelgeneem het en die son het toe ook heeltyd geskyn. En almal weet ’n mens sien die son eintlik bitter min in Skotland,” het sy laggend vertel.

Haar volgende driekamp-dagboekinskrywing is op 3 Oktober in Durban, terwyl die Ironman Afrika-kampioenskap in November is.

Om na die beste van jou vermoë te presteer mag dalk soos ’n cliché klink as iemand anders dit sê, maar nie wanneer Nieuwoudt praat nie.

“Die Ironman-wêreldkampioenskap in Kona (Hawaii) is seker elke driekamp-atleet se grootste droom. Ek wil eendag mededingend daar wees en nie net deelneem nie.”

Magda Nieuwoudt het g’n djin in ’n olielamp nodig om haar drome te bewaarheid nie. Sy doen dit sommer self.

  • Haar tye in Nederland:

Swem (3,8 km) 59:36 minute

Fietsry (180 km) 04:54:39 uur

Draf (42,2 km) 03:21:30 uur

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jou gewete ·

veg voort, nie vir land maar vir jouself. 12de na alles is uitstekend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.