Magiese 500 kg wink vir sterk Georgiër

Deur Riaan Hofmeyr.

Lasha Talakhadze in aksie. Foto: Alexander Nemenov/AFP.

’n Paar jaar gelede sou die doelwit van ’n 500 kg-totaal in Olimpiese gewigoptel niks meer as net ’n droom gewees het nie; ’n soektog na die heilige graal deur die een of ander mitiese ridder.

Dit is natuurlik totdat Lasha Talakhadze sy verskyning op die sportverhoog gemaak het.

Die Georgiër –  ’n reus van 1,97 m en 183 kg – is deesdae in ’n klas van sy eie omdat ander kragmanne skrikkerig is vir die swaar gewigte wat hy kan optel.

Tydens die afgelope Olimpiese Spele in Tokio het hy kop en skouers bo die ander deelnemers uitgestaan; grotendeels omdat hy reeds met sy eerste probeerslag sy teenstanders se beste pogings getroef het.

Hy het op sy pad na Olimpiese goud ook ’n paar wêreldrekords laat spat.

’n Gewigopteller se Olimpiese totaal word deur twee items bepaal: Eerstens word daar van die atleet verwag om die gewigte vanaf die grond tot bo sy kop in een vloeiende beweging op te tel (snatch), waarna hy die gewigte vanaf die grond tot by sy skouers moet optel en dan bo sy kop moet uitstoot (clean and jerk).

Hy het tydens die 2021-Wêreldkampioenskap in Oezbekistan weer eens die wêreldrekord verbeter en soos wat hy tereg op Twitter gesê het: “Bestendigheid is wat die gewone in iets buitengewoons verander.”

Talakhadze se totaal staan tans op 492 kg (danksy ’n bo-die-kop-optelpoging van 225 kg en ’n bo-die-kop-uitstootpoging van 267 kg). Hy is dus net 8 kg weg van die magiese 500 kg-totaal.

Die Georgiër se sportgetuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof – hy was reeds twee keer in sy loopbaan die Olimpiese kampioen, terwyl hy ’n vyfmalige Europese én wêreldkampioen is.

Dan is hy net 28 jaar oud en, indien hy beseringvry bly, kan hy vir Georgië by nog twee Olimpiese sessies verteenwoordig.

As ’n mens die tempo waarteen hy sy eie rekords verbeter in ag neem, is 500 kg baie nader as wat jy dink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.