Mamma Mia! Bloedjong Luca klink Novak se doppie

Luca Nardi het vir Novak Djokovic in Kalifornië uitgeskakel. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

As Novak Djokovic wêreldtennis se Superman is, dan moet Italiaanse spelers vanjaar sy kriptoniet wees.

Want nadat Jannik Sinner hom in die halfeindstryd van die Australiese Ope uitgeskakel het, het hy Maandag sy rieme styfgeloop teen Luca Nardi in Kalifornië.

Die 20-jarige Nardi, tans 123ste op die amptelike ATP-ranglys, het die 36-jarige Serwiër se droom van ʼn sesde Indian Wells-titel kortgeknip toe hy hul derderondewedstryd met 6-4, 3-6 en 6-3 gewen het.

Hy het terstond die swakste speler – ons praat nou hier van ranglysposisies – geword om Djokovic in ʼn ATP 1 000- of Grand Slam-kragmeting te troef.

“Vóór vanaand het niemand waarskynlik geweet wie ek is nie. Ek hoop die toeskouers het ook die wedstryd geniet; ek is ongelooflik tevrede met dié oorwinning,” het Nardi gesê.

Die jong Italianer het vreeslose tennis opgedis en hy het hou-vir-hou sy man teen die wêreld se voorste speler gestaan.

Hy het 16 wenhoue in die beslissende stel gemoker, waarna hy die wedstryd met ʼn kishou beklink het.

“As ek eerlik moet wees, dan weet ek nie hoe ek gewen het nie. Ek tel nie onder die voorste 100 spelers ter wêreld nie en nou wen ek vir Novak. Dis malligheid!”

Volgens Djokovic het Nardi gespeel soos iemand wat niks gehad het om te verloor nie; tog verdien hy ongetwyfeld die triomf.

“Ek was eintlik meer verbaas met my eie spel – ek het baie swak gespeel. Dinge het mekaar eintlik mooi op die baan uitgebalanseer: Ek het met my spel gesukkel, terwyl Luca uitstekend gespeel het,” het die Serwiër gesê.

Uitslae:

Luca Nardi klop Novak Djokovic met 6-4, 3-6 en 6-3

Daniil Medvedev klop Sebastian Korda met 6-4, 5-7 en 6-3

Grigor Dimitrov klop Adrian Mannarino met 6-3 en 6-3

Taylor Fritz klop Sebastian Baez met 6-2 en 6-2

Casper Ruud klop Arthur Fils met 6-2 en 6-4

Tommy Paul klop Ugo Humbert met 6-4 en 6-4

Holger Rune klop Lorenzo Musetti met 6-2 en 7-5

Gael Monfils klop Cameron Norrie met 6-7, 7-6 en 6-3

Ben Shelton klop Francisco Cerundolo met 7-6, 3-6 en 7-5

Maria Sakkari klop Caroline Garcia met 6-3 en 6-4

Elise Mertens klop Naomi Osaka met 7-5 en 6-4

Daria Kasatkina klop Sloane Stephens met 2-6, 6-4 en 6-4

Aryna Sabalenka klop Emma Raducanu met 6-3 en 7-5

Coco Gauff klop Lucia Bronzetti met 6-2 en 7-6

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Helene ·

Give that man a bells :) Novak baie goeie speler, maar met ‘n chip op sy skouer.

piet ·

Dis wat gebeur as jy weier om die Covid-inspuiting te neem. Natuurlik ‘n ernstige graad van Covid gekry en het nou permanente skade opgedoen wat verhoed kon gewees het. Mens moet maar jou medikasie neem wanneer dit nodig is.

Nici ·

Ja Piet want almal weet mos dat die wat geent is het nie Covid gekry nie ne?

Surizaru ·

My beskeie mening is dat dit al hoe meer gaan gebeur (dat “gewone” ouens vir Novak wen). Ongelukkig begin sy loopbaan einde se kant toe staan, dis fisies net onmoontlik om op die aanhou te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.