Maria Sharapova pak haar tennisraket weg

Maria Sharapova. Foto: Twitter.

Maria Sharapova het as tiener die tenniswêreld aan haar voete gehad.

As 17-jarige het sy in 2004 die enkelspeltrofee by Wimbledon omhoog gehou, terwyl sy in die daaropvolgende jaar die Amerikaanse Ope-kroon gedra het.

Maar gister – op 32-jarige ouderdom – het sy haar uittrede uit tennis aangekondig. Sy was een van die mees herkenbare sportsterre ter wêreld.

“Tennis het my ’n lewe gegee en ek sal dit elke dag mis,” het sy geskryf.

As sesjarige het die Russiese Sharapova en haar pa, Juri, met net $700 in Florida (VSA) aangekom.

Maria Sharapova. Twitter @MariaSharapova)

“Ek gaan die oefening en die daaglikse roetine mis: Om soggens douvoordag op te staan, my linkerskoen se veters eerste vas te maak en om die baan se hekkie toe te maak voordat ek my eerste bal slaan. Ek gaan my span en my afrigter mis. Ek gaan dit mis om langs my pa op die oefenbaan se bankies te sit en om my teenstander se hand ná die kragmeting te skud.”

Waar sy in 2005 vir die eerste keer in haar loopbaan die wêreld se voorste vrouespeler was, was sy met haar uittrede 369ste ter wêreld gekeur.

Sy is in ʼn stadium vir 15 maande uit tennis geskors toe sy positief vir ’n verbode middel getoets is.

Die afgelope jaar was sy egter skaars op ’n tennisbaan in aksie weens ’n lastige skouerbesering wat maar net nie wou weggaan nie. Wanneer sy wel gespeel het, was sy dikwels in die eerste ronde uitgeskakel.

“Tennis het vir my die wêreld gewys en my geleer van watter stoffasie ek gemaak is. Dit is hoe ek myself getoets het en my vordering gemeet het. Maak nie saak wat ek besluit om in my volgende lewenshoofstuk aan te pak nie, ek sal aanhou groei en aanhou veg. Maar vir tennis sê ek totsiens.”

Buiten haar Amerikaanse Ope- en Wimbledon-titels, het sy ook die Australiese en Franse Ope (twee keer) gewen, terwyl sy ’n silwermedaljewenner by die Olimpiese Spele in 2012 was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gato

Sy is darem maar pragtig. As ek net 20 jaar jonger was.

Moedeloos

So jammer sy moet tennis vaarwel roep. Maar daar is n tyd om te kom en n tyd om te gaan.

Niklaas

Sy het , tesame met Anna Koernikova , by my ‘n taamlik groot gehegdheid en waardering vir tennis laat aanwakker en aankweek. Merkwaardig.