Mariska en kie wil sterk by Spele vertoon

Mariska Smit in aksie. Foto: Rebel/Verskaf.

Volgens Mariska Smit het die CrossFit Commit Okavango-span vanjaar ’n spesifieke doel voor oë: Hulle wil nie net vir die Spele in die VSA kwalifiseer nie, hulle wil ook goed doen daar.

Smit was verlede jaar – ook in spanverband – deel van die aksie en sy vertel dat ’n kaartjie na Madison (Wisconsin) een van die grootste hoogtepunte in enige CrossFitter se loopbaan is.

“As ’n opkomende atleet het ek altyd opgekyk na almal wat daar deelneem. Ek het egter nooit in my wildste drome gedink ek sal ook eendag met hulle skouers skuur nie. Die kompetisie in Madison is doodeenvoudig net op ’n ander vlak en ’n mens se oë gaan beslis oop,” het sy in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Tans lyk dinge baie belowend wat Commit Okavango se kwalifiseer-drome betref: Hulle is die voorste span in Afrika ná die kwarteindstryd-ronde en hulle tel onder die top-70 spanne wêreldwyd.

Sy geniet die spanafdeling baie meer as individuele kompetisie. Foto: Verskaf.

Glad nie ’n slegte prestasie nie, veral wanneer ’n mens in ag neem dat oorsese CrossFitters almal hul sportsoort heeltyds kan beoefen. Hier in Suid-Afrika moet die meeste atlete nog elke aand hul kosblikke vir die volgende dag se werk pak.

“Ek dink egter ons land word uitstekend sedert 2018 verteenwoordig en die Suid-Afrikaanse vlag wapper trots. Dink net wat ons Suid-Afrikaners kan vermag as ons dit ook heeltyds kan doen?”

Smit se CrossFit-loopbaan het in 2017 begin en hoewel sy ’n puik individuele atleet is – sy het vanjaar se Ope in die 91ste plek (wêreldwyd, nogal) afgesluit – verkies sy veel eerder spankompetisies.

“Ek hou niks daarvan om alleen te oefen nie, dus maak die span alles net soveel lekkerder. ’n Mens het terselfdertyd groter aanspreeklikheid jeens jou spanmaats en dit motiveer jou om daardie bietjie ekstra te gee.”

Met die Spele in hul visier word daar so te sê vir die hele week aan hul vaardighede geskaaf, terwyl die oefenbarometer oor naweke in die rooi gedruk word – dan kan die oefensessies vir ’n paar uur duur.

Natuurlik kla Smit nie as haar hare vol krytpoeier of haar hande vol blase is nie – harde oefening is immers deel van haar verwysingsraamwerk.

Sy het al ’n draai in Madison gemaak – ’n baie groot prestasie. Foto: Verskaf.

“Ek geniet ’n uitdaging en ek was nog altyd baie mededingend. CrossFit sorg omtrent vir ’n daaglikse uitdaging en dit skep ’n geleentheid om te kompeteer – hetsy met jouself of met iemand anders. Terselfdertyd is dit wonderlike oefening wat ’n mens fiks hou. Ek hou van lekker eet en CrossFit help beslis dat ek in my broeke pas!”

Wanneer Smit oor haar CrossFit-held gepols word, het sy twee name gereed: Australië se Tia-Clair Toomey en Ysland se Sara Sigmundsdottir.

Toomey word vir haar fiksheid bewonder en Sigmundsdottir vir haar spontane en nederige persoonlikheid.

En in Mariska Smit beskik Suid-Afrika oor ’n kranige en fikse CrossFitter wat die sportsoort geniet en nederig bly oor al haar prestasies.

Commit Okavango mag dalk net vanjaar vir ’n verrassing of twee sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.