Mariska se Paralimpiese droom word waar

Mariska Venter in aksie op die tennisbaan. Foto: Reg Caldecott.

Vir sewe jaar het Mariska Venter daarvan gedroom om Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele te verteenwoordig. En vandag (17 Augustus) klim sy op ’n vliegtuig na Tokio. Haar droom het waar geword!

Die 25-jarige tennisspeler se lewe het in 2004 onherroeplik verander toe sy en haar gesin in ʼn ernstige botsing betrokke was. Haar pa en broer is in die motorongeluk dood en die agtjarige Mariska het haar rug gebreek, wat haar verlam gelaat het.

Tog is sy die toonbeeld van iemand wat die lewe geniet en tussen haar tennispligte en studies deur doen sy ook modelwerk terwyl sy op die kassie as Eugenie in 7de Laan te siene was.

“Ek wil voluit lewe en doen so veel as moontlik bucket list-avonture, terwyl ek myself besig hou met nuwe drome. Ek wil altyd groter dinge bereik,” het sy aan Maroela Media gesê.

Op die tennisbaan is sy tans 34ste op die wêreldranglys gekeur, terwyl sy die tweede voorste speler in Suid-Afrika is. As ’n o.18-speler was sy die beste ter wêreld.

Mariska Venter is ’n talentvolle jong sportster. Foto: Reg Caldecott.

“Tennis dra my deur moeilike tye en dit laat my voel asof ek nie in ’n rolstoel is nie. Ek is so vry wanneer ek op die tennisbaan is en ek voel soos ’n professionele atleet en nie soos ’n verlamde persoon nie. Ek is mal oor daardie gevoel.”

Sy erken dat tennis tans haar hoofprioriteit is, gevolg deur haar studie en modelwerk. Vir die afgelope sewe jaar was dit immers haar grootste droom om vir die Spele te kwalifiseer.

“My mikpunt is nou om net te gaan en dit te geniet. Ek het meer as ’n jaar terug laas ’n toernooi gespeel, dus is my verwagtinge nie baie hoog nie. Ek sien net uit om my hart uit te speel.”

Sepiekykers het baie van haar vertolking in 7de Laan gehou en sy vertel dat dit lekker was om iets buite haar gemaksone aan te pak.

“Om in 7de Laan te speel het my die geleentheid gebied om aan kykers te wys hoewel verlamde mense anders lyk, ons steeds dieselfde drome en passies het as ander,” het sy destyds gesê.

En wanneer die tenniswedstryde op 27 Augustus in Tokio begin, sal Suid-Afrikaanse sportliefhebbers bankvas agter Mariska staan. Iemand wat haar droom vir sewe jaar nagejaag het verdien ongetwyfeld haar land se ondersteuning en bewondering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hardekwas ·

Alle voorspoed en sukses. Hopelik kom daar nog n paar medaljes Suid Afrika toe.

Suzette ·

Alles van die beste Mariska – geniet elke oomblik by die spele!

Niklaas ·

Sy kan dien as inspirasie vir soveel van ons. ‘n Dame wat nie in sak en as gaan lê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.