Marko meen Red Bull het inderdaad vlerke

Red Bull geniet tans ’n voorsprong van 97 punte op die vervaardigerspunteleer. Foto: Twitter.

As jy vir Ralf Schumacher sou vra wie Red Bull se grootste bondgenoot in vanjaar se F1-kampioenskap is, sal hy sonder om te blik of te bloos “Ferrari” antwoord.

Want ondanks Charles Leclerc se oorheersing in die kwalifiserende rondes, val Ferrari amper letterlik uitmekaar wanneer daar om ’n podiumplek op ’n Sondag baklei word.

As dit nie ’n vreemde kuipstrategie is nie, dan is dit Leclerc wat ’n fout maak. Ná 13 wedrenne geniet Red Bull ’n voorsprong van 97 punte op die vervaardigerspunteleer, terwyl Max Verstappen op koers na ’n tweede agtereenvolgende wêreldtitel is.

Helmut Marko, die voormalige Oostenrykse renjaer en een van Red Bull se raadgewers, meen egter dat daar nie eintlik ’n reuseverskil tussen Red Bull en Ferrari se vuurwaens is nie.

“Ja, Ferrari was beslis vinniger as ons in Spanje, maar ek dink Red Bull het net soveel keer gewen as wat Leclerc heel voor weggespring het,” het Marko gesê.

En ’n triomftog dra uiteindelik baie meer gewig as ’n goeie plek op die wegspringrooster.

Hy is ook in sy noppies met die werkverrigting van sy span se renmotor.

“In vorige jare het ons onder die stadigstes in die pylvak getel. Nou is ons die vinnigste. Ons verloor ook nie naastenby soveel tyd om die draaie as wat ons weer in die pylvak opmaak nie. En dit is lekker.”

Lewis Hamilton het juis vroeër gesê dat Verstappen in die binnebaan is om weer met die titellouere weg te jaag.

“Max het tans so ’n groot voorsprong en daar is nie veel hindernisse in sy pad nie,” het die Mercedes-renjaer gesê.

Tog is F1-wedrenne baie onvoorspelbaar en die Britse renjaer het Ferrari aangemoedig om nie moed te verloor nie.

“Eintlik kan daar nog baie dinge vir Red Bull verkeerd loop. Ek sal vir Ferrari aanraai om net aan te hou veg,” het Hamilton gewaarsku.

Die volgende wedren vind op 28 Augustus in België plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.