Marko, Vettel tree vir Masi in die bresse

Michael Masi. Foto: Nhac Nguyen/AFP.

Volgens F1-riemtelegramme lyk dit of Michael Masi nie die trekpas sal kry nie, maar sy dae as wedrendirekteur kan getel wees.

Die 44-jarige Australiër was die baasbrein agter die dramatiese laaste ronde van die Abu Dhabi-wedren toe ’n vlieënde Max Verstappen die wêreldtitel voor Lewis Hamilton se neus weggeraap het.

Nodeloos om te sê was Mercedes bitter ongelukkig en hulle het destyds die FIA-beheerliggaam se besluit verwelkom om die gebeure te ondersoek.

Die ondersoekkommissie se bevindings sal binnekort bekend gemaak word, maar intussen word woorde soos “strukturele verandering” in FIA-verklarings gebruik.

En volgens oorsese berigte kan dit net beteken dat Masi sy pos as wedrendirekteur kwyt kan wees; ’n verwikkeling wat ’n “gedisillusioneerde” Hamilton sal laat glimlag.

Tog is Masi steeds gewild en verskeie F1-belanghebbendes het intussen vir hom in die bresse getree.

Volgens Sebastian Vettel, viermalige wêreldkampioen, het die Aussie hom goed van sy taak gekwyt.

“Ja die laaste wedren in Abu Dhabi was in omstredenheid gehul, maar eintlik behoort dit nie te wees nie. As ’n mens na die groter prentjie kyk het Michael homself uitstekend van sy taak gekwyt,” het die Duitser gesê.

Dan het Red Bull se Helmut Marko gewaarsku dat Masi nie as die sondebok uitgekryt moet word nie.

“Hy wou bloot net die seisoen op ’n opwindende wyse afsluit. En soos altyd baat een renjaer meer by ’n veiligheidsmotor se teenwoordigheid as ’n ander.”

Volgens Marko moet die ondersoek vir meer duidelikheid sorg: Masi was oorweldig en spanbase kan nie voortgaan om gereeld in te meng nie.

Daar is vanjaar weer 23 wedrenne op die kalender en die aksie begin amptelik op 20 Maart in Bahrein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.