Internasionale sportsterre haal gereeld die hoofopskrifte van koerante en aanlyn-publikasies, en met reg. Hul vermoë om ’n bal te skop, te slaan of ’n maraton in ’n rekordtyd te voltooi is ongeëwenaar en hulle verdien al die lof wat hulle toekom.
Maar ʼn mens moet ook nie van die “gewone” sportman of -vrou vergeet nie. Die persoon wat elke Saterdag getrou die Parkrun hardloop, elke naweek sy rugbystewels vir sy klubspan aantrek, of daagliks in die gimnasium sweet; nie soseer om ander te beïndruk nie, maar om self ook as mens te groei.
Elayne Stoltz is só ’n persoon.
“Ek was maar die lelike eendjie op skool; die een wat té lank of té grof was. Oefening was my manier om van alles te ontsnap en ná 12 jaar is dit steeds die geval. Na afloop van elke oefensessie voel dit asof jy enige uitdaging kan aanpak wat jou pad langs kom,” sê sy.
Stoltz het op 15-jarige ouderdom saam met haar ma “spinning”-klasse begin bywoon en haar liefde vir oefen is dáár gekweek.
“Ek het my ma gesmeek om vir my fiksheidstydskrifte te koop en só het ek – ná netbal- en ander sportverpligtinge op skool – myself touwys gemaak wat die verskillende oefeninge betref.”
Deesdae oefen sy twee keer per dag; soggens is dit hoë intensiteit- oefeninge terwyl sy saans weer die gimnasium besoek of ’n CrossFit-klas bywoon.
Ma-wees het ook nie haar oefenroetine omvergewerp nie; trouens voel sy dat dit met haar pligte as ma help.
“Ma’s trotseer daagliks talle uitdagings en hulle het bittermin tyd vir hulself; juis omdat hulle gereeld besig is met hul kinders se huiswerk of sportaktiwiteite. As ma is jy egter ’n voorbeeld vir jou kind en hulle kyk op na jou. Ek weet dat dit vrek moeilik kan wees om te begin oefen, maar sodra jy eers in die roetine kom, is jou gemoed rustiger, is jy geduldiger en jy het sommer baie meer energie. Jou kinders sien dit raak en kort voor lank leer hulle ook jou gesonde gewoontes aan.”
Soos reeds genoem is sy ’n kranige CrossFitter.
“CrossFit sorg dat jy gereeld buite jou gemaksone is en jy leer jouself baie beter ken. Boonop help dit ook met jou alledaagse takies in en rondom die huis. Jy is fisiek baie sterker.”
Selfs al speel sy nie netbal by ’n wêreldbeker-toernooi of tel gewigte by die CrossFit-spele op nie, verdien Elayne Stoltz ’n pluimpie vir die wyse waarop sy haar rol as vrou, ma en oefeningliefhebber vertolk.
- Maroela Media berig gereeld oor die groot plaaslike en internasionale sportgebeure, maar daar is ook ruimte om oor “gewone” sportsterre te berig. Stuur gerus jou sportnuuswenk na [email protected] en dalk kan daar lekker rondom jou storie gekuier word!