Masi-nadraai: Horner vuur salvo na Mercedes

Red Bull se Christian Horner. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

F1 sorg altyd vir hope drama.

En moenie dink dat die aksie op die renbaan die enigste hoofspeler in hierdie sepie is nie; wanneer die renjaers en spanbase langs die kuipe swaarde kruis, dra dit net soveel tot die spanning en opwinding by.

Christian Horner, die Red Bull-spanbaas, het Mercedes van boeliegedrag beskuldig nadat Michael Masi vroeër uit sy stoel as wedrendirekteur geskop is.

Ja, die skrif was seker reeds verlede jaar aan die muur vir die 44-jarige Aussie – hy was immers die baasbrein agter die dramatiese laaste ronde van die Abu Dhabi-wedren toe ’n vlieënde Max Verstappen die wêreldtitel voor Lewis Hamilton se neus weggeraap het.

Natuurlik was Hamilton glad nie gelukkig met die verwikkelinge nie, Mercedes het ’n bohaai opgeskop en, as jy mooi tussen die reëls lees, was Masi se kop op ’n silwer skinkbord geëis.

Was dit egter nodig om hom die trekpas te gee net omdat ’n span druk op hom geplaas het?

Nee, sê Horner.

“In my oë is dit verkeerd en gelykstaande aan afknouery. Ja, Michael het foute gemaak, maar jy kan nie die skuld vir alles op sy skouers plaas nie. Dit is onregverdig,” het Horner gesê.

Volgens die Red Bull-man was sy span aan die ontvangkant van ’n hele paar Masi-foute, maar hulle het begrip vir die drukkoker-situasie waarin hy hom bevind het.

Hy het terselfdertyd ook vir hom in die bres getree nadat die Australiër onder aanlyn boelies deurgeloop het.

“Sulke gedrag kan hoegenaamd nie goedgekeur word nie; dit het niks met die sport uit te waai nie.”

Horner glo dat Masi nie die nodige ondersteuning gekry het nie en dat hy onnodig ná die gebeure in Abu Dhabi gekruisig is.

“Daar was ’n gekonsentreerde veldtog teen hom van stapel gestuur en hoewel daar nie direkte konfrontasie was nie, het dit steeds ’n groot invloed op die gebeure gehad.”

En hoe voel Mercedes se Toto Wolff oor alles?

“Ek het nog nie weer met Michael gepraat nie en ek is nie van plan om ooit weer met hom te praat nie. Sy besluitneming was swak en ek is seker hy is spyt daaroor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Smurf ·

Toto Wolff is die boelie , sy humeur laat veel te wense……

Boer ·

Ek stem 100% saam want ek sal nie n Mercedes nou koop nie en ek glo reg oor die wereld sal daar mense wees wat soos ek voel.

Thom ·

Masi se grootste fout was om NIE vir LH in Brittanje te diskwalifiseer nie ___ Waar in enige sport kan jy op ‘n onwettige manier n teenstander elimineer en dan steeds die voordeel behou!?

Jan Maer ·

Toto Smoto. Al wat goed is vir MB is dat die karre weer silver is. Hulle sal dalk nou weer kan wen.

Racheltjie Debeer ·

Mercedes is boelies en swak verloorders! As die situasie anders om was, sou hulle nie ‘n woord gesê het nie.!

Lollapop ·

F1 is so ‘n lekker opwindende sport om te kyk, Max en die ander jong jaers se energie is aansteeklik. Ongelukkig maak Hamilton en sy span dit onaangenaam om te kyk.

Boer ·

Dit is net soos Christian se nie alles is Masi se skuld nie. Mercedes het die kans om vars bande op LH se kar te sit nie gebruik nie RB het nuwe bande op gesit en verder is dit Geskiedenis. Max gaan die jaar wys hy is n regte champion.

Alta Alleman ·

MB is rooi in die gesig oor hierdie grootste flater wat hulle begaan het…..Iemand moet die skuld kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.