Masi uit sy wedrendirekteur-stoel geskop

Michael Masi. Foto: Twitter via F1.

“Michael Masi, wat hom die afgelope drie jaar goed van sy taak as F1 se wedrendirekteur gekwyt het, sal ’n nuwe pos aangebied word,” het Mohammed Ben Sulaymen (FIA-president) gister in ’n verklaring gesê.

Eintlik was die skrif seker reeds verlede jaar aan die muur vir die 44-jarige Aussie – hy was immers die baasbrein agter die dramatiese laaste ronde van die Abu Dhabi-wedren toe ’n vlieënde Max Verstappen die wêreldtitel voor Lewis Hamilton se neus weggeraap het.

Nodeloos om te sê was Hamilton glad nie gelukkig met die verwikkelinge nie, Mercedes het ’n bohaai opgeskop en, as jy mooi tussen die reëls lees, was Masi se kop op ’n silwer skinkbord geëis.

Volgens die FIA sal Niels Wittich en Eduardo Freitas nou beurte maak om in die wedrendirekteurstoel te sit, terwyl Herbie Blash as hul permanente raadgewer sal optree.

Of daar nou meer bestendigheid en duidelikheid (waarna Mercedes so smag) sal wees, is ’n ope vraag.

Die aanstelling van die 73-jarige Blash word egter in F1-kringe verwelkom – hy beskik oor hope ervaring nadat hy jare lank Charlie Whiting (oud-wedrendirekteur) se assistent was, terwyl hy sedert die 1960’s al by die sportsoort betrokke is.

Masi is egter steeds ’n gewilde figuur.

Sebastian Vettel en Helmut Marko het vroeër vir hom in die bresse getree, terwyl Charles Leclerc ook in sy hoek is.

“Ek het baie respek vir Michael en hy het al baie goeie dinge vir die sport gedoen. Hy het glad nie ’n maklike taak gehad nie en die drukkoker het veral in Abu Dhabi die hoogte ingeskiet. Maar die FIA het sy besluit geneem – die beheerliggaam beskik oor baie meer inligting en ek vertrou dat die regte keuse gemaak is,” het die Ferrari-ster gesê.

Volgens oorsese mediaberigte kan Masi voortaan meer by die renjaers se veiligheid betrokke wees.

In ander verwikkelinge sal spanbase ook nie meer die wedrendirekteur se ore met hul vrae en bevele laat tuit nie.

“Direkte radiokommunikasie gedurende ’n wedren, wat tans regstreeks deur televisiestasies uitgesaai word, sal geskrap word om die wedrendirekteur se besluitnemingsproses te beskerm,” het Sulaymen gesê.

“Dit sal egter steeds moontlik vir spanbase wees om hul vrae te stel, maar dit sal op ’n meer ordelike wyse gedoen word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

En as dit enige iemand anders as die halfgebak was wat beinvloed was, sou hy nog sy pos gehad het. Hy het seker nie gekniel voor die resies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.