Max beëindig Mercedes se VSA-oorheersing

Max Verstappen en die Red Bull-span vier sy oorwinning in die VSA. Foto: Steven Tee/AFP.

Max Verstappen het gisteraand (SA tyd) Mercedes se heerskappy van die Amerikaanse Grand Prix beëindig toe hy eerste oor die wenstreep in Austin gejaag het. Sodoende het hy sy voorsprong op die jaerspunteleer na 12 punte gerek.

Lewis Hamilton was kort op sy hakke nadat die jong Nederlander net genoeg in die laaste ronde gedoen het om te sorg dat die geruite vlag vir hom geswaai word.

Die verdedigende wêreldkampioen het weliswaar vir Verstappen vroeg in die wedren – sommer so uit die staanspoor – verbygesteek, maar die Red Bull-span se kuipstrategie het gesorg dat hulle die kat-en-muis-speletjie uiteindelik gewen het.

Verstappen en Sergio Perez het vroeg die kuipe besoek, terwyl Hamilton besluit het om langer op die baan te bly; natuurlik met die hoop dat hy later weer die Red Bull-renjaer sou inhaal.

Nuwer bande verrig immers wondere op ’n F1-renbaan.

Maar helaas was dit hom nie beskore nie en ’n briljante Verstappen het met net meer as ’n sekonde gewen.

“Dit was glad nie maklik nie – my bande was gaar – maar dit is ongelooflik om hier te wen. Dit was ’n opwindende wedren want ons was deurgaans onder hewige druk,” het Verstappen gesê.

Christian Horner, Red Bull-spanbaas, het die jong Nederlander se bestuursvernuf geloof en erken dat hy soms ’n bietjie oor die uitslag getwyfel het.

“Ek het met tye werklik gedink dat Max nie met die louere sal wegstap nie – Lewis se bande was immers in ’n baie beter toestand. Maar Max het dinge onder beheer gehad en hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt.”

Volgens Hamilton was die Red Bull-motor net beter.

“Ons het ons beste gegee, maar om een of ander rede was hulle net vinniger as ons. Ek weet nie eintlik wat ons vandag anders kon gedoen het nie en ons sal beslis die wedren ontleed,” het Hamilton gesê.

Dit is maklik om iemand in te haal, maar dit is ’n ander storie om hom weer verby te steek.

  • Uitslag:
  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. Daniel Ricciardo (McLaren)
  6. Valtteri Bottas (Mercedes)
  7. Carlos Sainz (Ferrari)
  8. Lando Norris (McLaren)
  9. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  10. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  • Jaerspunteleer:
  1. Max Verstappen 287,5 punte
  2. Lewis Hamilton 275,5 punte
  3. Valtteri Bottas 185 punte
  4. Sergio Perez 150 punte
  5. Lando Norris 149 punte
  6. Charles Leclerc 128 punte
  7. Carlos Sainz 122,5 punte
  8. Daniel Ricciardo 105 punte
  9. Pierre Gasly 74 punte
  10. Fernando Alonso 58 punte
  • Vervaardigerspunteleer:
  1. Mercedes 460,5 punte
  2. Red Bulle 437,5 punte
  3. McLaren 254 punte
  4. Ferrari 250,5 punte
  5. Alpine Renault 104 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

MakersMark ·

Red Bull span is strate voor mercedes as dit by strategie kom……die “bande” strategie van Red Bull is “spot on” elke keer. Verstappen ry ook so dat sy bande net daai rondte of twee langer hou. SuperMax!

piet ·

Glad nie so super nie. Hou in gedagte dat Hamilton hom eintlik op die baan verbygesteek het (met ryvernuf) en Verstappen is net gered deur ‘n effe beter spanstrategie op die dag. Hamilton is die beter jaer.

Jakkie ·

Net oor hy die beter kar het! Dis al. Hy sal nooit in dieselfde klas wees as Senna en Schumacher. Eerlik dink ek Max kan mens in daai klas gooi. Ek is nie ‘n Max fan nie, maar gee die ou krediet waar dit nodig is. Die Mercedes kar is nogsteeds beter as Red Bull, kyk maar net waar is Max se spanmaat. Dit was dieselfde destyds met Schumacher, hy was ver voor sy spanmaats. En ek dink ook volgende jaar gaan George Russel vir ou Hamstring onder baie druk sit.

piet ·

Het hy die beter kar? Sover ek weet het Verstappen eerste weggespring omdat hy die vinnigste kwalifiserende tyd gehad het. Hamilton se rekord vertel ‘n ander storie, wereldrekord-breker sit nie in enige jan rap en sy maat se broek nie. Schumacher (veral) se kar was ook by verre die beste. Kom ons kyk of Verstappen enigsins naby Hamilton se wereldrekord sal kom.

koos10 ·

Hierdie beter kar ding is nou hol rug gery. Laas jaar, miskien so, maar nou Max is voor op die punte leer, meer 1ste plekke en meer voorste wegspring plekke. Hoe maak die som dan sin? O ja Red Bull se kuipe stoppe is nie elke keer spot on, soos MarkerMark hier bo beweer nie. Hierdie is twee uiters talentvolle bestuurders met 2 bitter goeie karre en spanne. Ek was verveeld met Merc wat elke ren wen, net soos Ferrari klomp jare terug. Dis bitter lekker om weer wedrenne te sien!

MakersMark ·

Koos10 die “timing” van kuipstoppe in verband met “tyre wear management”, die baantemperatuur, die nodige bestuurstyl en spoed asook aantal rondtes tot die einde van die wedren word beter bestuur deur RB.

Jakkie ·

Schumacher se kar in 1994 en 1995 was glad nie die beste kar nie, gaan kyk hoeveel keer was die Benneton 1 en 2 in daai jare, nie 1 keer nie. Die Williams was daai tyd. Self die Ferrari van 2000 en 2003 was ook nie die beste nie. Daar was Mclaren en Williams BMW groot kompetisie gewees. In 1994 het hy Damon Hill gewen met 1 punt sy spanmaat was 10de, in 1995 het hy weer vir Damon gewen met sy spanmaat 4de en die 2 Williams 2de en 3de, in 2000 het was Mclaren beter, hulle het 2de en 3de in die kampionskap geeindig. Michael se spanmaat was 4de. In 2003 het Michael maar met 2 punte gewen teen Kimi in Mclaren en weer was sy spanmaat 4de. So om te sê hy die beste kar gehad is ongelukkig nie korrek nie. Ook kan jy nie die karre vergelyk met mekaar van destyds nie. Vandag se F1 karre is baie makliker om te bestuur as destyds.

Jammer, Hamilton het nie die talent van Senna of Schumacher nie. As sy kar sleg is sukkel hy maar. Gaan kyk waar het hy geindig in 2009, 2010, 2011, 2012 en 2013

MakersMark ·

Ag ou piet daar is nou ‘n duidelike bewys dat ‘n meer talentvolle bestuurder en ‘n goeie strategie ‘n minder talentvolle bestuurder met baie beter kar en geen strategie behalwe “voet in die hoek” ordentlik kan klop nie. Supermax was eerste oor die lyn. En dis wat tel.

piet ·

Verbygaan op die baan met bestuurdersvernuf vertel vir my die storie van die beter jaer. Sit vir Hamilton in die huidige Red Bull en hy ry heeltemal weg vir hulle.

MakersMark ·

Lewies het op sy herrie gekry. Verstappen get hom ordentlik ore aangesien. Meeste bestuurders en karre kan ander verbysteek op die baan op enige gegewe tyd. Dis wie kry die geruite vlag……

piet ·

Ha, ha. Jy sien nie sommer die heel top-manne mekaar verbysteek nie maar Hamilton het dit gedoen. Spreek van klas.

Thom ·

Max is by ver die beter jaer __ altyd sagte handskoentjies wanneer na Hamilton se oortredings gekyk word en hy het nog altyd voorkeur behandeling binne sy eie span gekry maaf ten spyte daarvan het Rossberg hpm nog steeds op sy herrie gegee . Net ‘n paar renne gelede het Max hom op die baan verbygesteek voor die eerste draai , as dit jou kriterium is

piet ·

Die kriterium is meer as 100 wenne, ‘n wereldrekord. Max leer nog…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.