Max en Sergio wil in Mexiko wen

Max Verstappen en Sergio Perez ná die Amerikaanse Grand Prix in Austin. Foto: Steven Tee/AFP.

Max Verstappen het al twee keer eerste oor die wenstreep in Mexiko gejaag en hy sal poog om Sondag vir die derde keer met die louere weg te stap.

Dit sal nie net vir ’n lekker persoonlike hoogtepunt sorg nie, maar hy sal ook sy voorsprong op die jaerspunteleer vergroot.

“Ek het goeie herinneringe van Mexiko en ek sien uit om weer daar deel te neem. Maar terselfdertyd weet ek ook dat die komende weke baie besig sal wees,” het Verstappen gesê.

Ná Sondag se Mexikaanse avontuur vertrek die F1-sirkus na Brasilië, terwyl die enjins in die daaropvolgende week in Katar sal brul.

“Dit is ongelooflik belangrik in die volgende paar wedrenne dat Red Bull goed sal vertoon. Ons veg immers nou vir die wêreldtitel. Ja, ons gaan baie moet reis en die tydverskille gaan dinge bemoeilik, maar ek kan nie wag om weer terug in Mexiko en Brasilië te wees nie. Terselfdertyd is ek ook opgewonde om die onbekende in Katar aan te durf.”

Sergio Perez druk ook gereeld sy stempel op wedrenne af en sy vertonings het al gesorg dat Lewis Hamilton van belangrike punte weerhou word.

Boonop het die Mexikaanse renjaer “uiteindelik” ’n motor waarmee hy wedrenne kan wen. En hy wil saam met Verstappen die pap dik in Mexiko-stad aanmaak.

“My land het my nog altyd ondersteun en dit is wonderlik om ’n motor te hê waarmee ek ’n wedren in my geboorteland kan wen. Red Bull beskik hierdie naweek oor ’n unieke geleentheid om vir iets spesiaals te sorg en ek sal na die beste van my vermoë voorberei,” het Perez gesê.

Toto Wolff, Mercedes-spanbaas, het egter gesê dat enigiets vanjaar moontlik is. Mercedes is ook gereed om vir sy Amerikaanse Grand Prix-blaps te vergoed.

Die aksie begin Sondag om 21:00 en die wedren sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.