Max gee pas aan in eerste oefensessie

Max Verstappen is groot in Japan. (Foto: X/Oracle Red Bull Racing)

Max Verstappen het die vinnigste tyd in die eerste oefensessie van die Japanse Grand Prix op die Suzuka-renbaan opgestel.

Sergio Perez, die vlieënde Hollander se Red Bull-spanmaat, het die naasbeste tyd opgestel, gevolg deur Carlos Sainz in sy Ferrari.

Die tweede sessie is egter deur reënweer kortgeknip, met McLaren se Oscar Piastri wat toe die vinnigste was.

Intussen het Verstappen erken dat hy nie van plan is om binnekort agter die stuur van ʼn ander renmotor in te skuif nie. Die driemalige wêreldkampioen se Red Bull-kontrak verstryk aan die einde van 2028.

“Ek is tans baie tevrede waar ek is en ek wil dinge so hou,” het die 26-jarige renjaer gesê.

Volgens Verstappen is daar egter ʼn moontlikheid dat hy sy valhelm kan wegbêre wanneer sy Red Bull-dae tot ʼn einde kom.

“Ek is tot 2028 by Red Bull gekontrakteer; daarna sal ek eerstens wil kyk of ek nog met die sport sou wou voortgaan. Daardie besluit gaan vir my die heel belangrikste wees en nie soseer by watter span ek myself dan kan bevind nie. Trouens dink ek nie juis veel daaraan nie.”

Die Nederlander het remprobleme in sy vorige wedren ondervind en hy moes noodgedwonge in Melbourne die aftog blaas.

Maar dinge lyk weer rooskleurig in Japan op ʼn baan waar hy met twee oorwinnings op ʼn streep spog.

“As ons vlugtig na die Melbourne-vertoning terugkyk, kan ons nie eintlik oor die motor se spoed kla nie. Ja, ons het nie die wedren voltooi nie, maar ons motor is op sy beste om vinnige hoeke en hopelik kan ons weer ʼn sterk vertoning die naweek lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.