Max hou dinge wéér in truspieëltjie dop

Max Verstappen het nog ’n wedren gewen. Dié keer in Barcelona. (Foto: Xavi Bonilla/DPPI via AFP)

Max Verstappen het ’n paar goeie herinneringe van die Spaanse Grand Prix.

In 2016 het hy die jongste wenner nóg van ʼn F1-wedren geword toe hy met die louere in Barcelona weggejaag het, terwyl hy Saterdag ook sy eerste plek op die wegspringrooster vir die jongste ren in dié Spaanse stad verseker het.

Vandag het hy in die hoofwedren sy “numero uno”-status behou toe hy sy derde wedren op ʼn streep en sy vyfde van die seisoen gewen het.

Die Red Bull-renjaer het van begin tot einde voorgeloop en benewens ʼn waarskuwing of twee oor sy rojale gebruik van die baanoppervlakte, het hy die aksie in sy truspieëltjie dopgehou.

Hy het die wedren uiteindelik met meer as 20 sekondes gewen om sy voorsprong op die jaersunteleer na 53 punte te vergroot.

Mercedes het beslis aan hul vuurwa gewerskaf en Lewis Hamilton was tweede oor die wenstreep, gevolg deur George Russell.

Sergio Perez was vierde nadat hy in die kwalifiserende rondes gesukkel het, maar hy sal moet uithaal en wys as hy in die oorblywende wedrenne by sy spanmaat wil kers vashou.

Verstappen gee tans vir Red Bull vlerke.

Fernando Alonso moes met ʼn sewende plek tevrede wees ná hy in die agtste plek weggespring het.

Die Spanjaard het net nie oor die nodige spoed beskik nie. Hy het vroeër sy Aston Martin so ʼn bietjie in die kwalifiserende rondes beskadig toe hy oor die gruisklipgedeelte gejaag het.

Daar wag nog 15 wedrenne op motorsportliefhebbers, maar dit lyk of ʼn mens reeds die silwerware vir Verstappen kan blink poets.

Maar pasop, F1 kan nogtans ʼn baie onvoorspelbare sportsoort wees.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. Lance Stroll (Aston Martin)
  7. Fernando Alonso (Aston Martin)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Zhou Guanyu (Alfa Romeo)
  10. Pierre Gasly (Alpine)
  11. Charles Leclerc (Ferrari)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 170 punte
  2. Sergio Perez: 117 punte
  3. Fernando Alonso: 99 punte
  4. Lewis Hamilton: 87 punte
  5. George Russell: 65 punte
  6. Carlos Sainz: 58 punte
  7. Charles Leclerc: 42 punte
  8. Lance Stroll: 35 punte
  9. Esteban Ocon: 25 punte
  10. Pierre Gasly: 15 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 287 punte
  2. Mercedes: 152 punte
  3. Aston Martin: 134 punte
  4. Ferrari: 100 punte
  5. Alpine: 40 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boer ·

Hulle kan Max net vir die 3de keer as die wêreldkampioen kroon, Hy is in ‘n klas van sy eie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.