Max laat die oranje vlam helder brand

Max Verstappen het vandag die Nederlandse Grand Prix gewen. Foto: Kenzo Tribouillard/AFP.

Oranje T-hemde, oranje vuurwerke en oranje trots. Alphaville mag dalk ’n Big in Japan-treffer hê, maar Max Verstappen se gewildheid is ongetwyfeld baie groot in Nederland.

Derduisende F1-geesdriftiges het vandag die 23-jarige Nederlander op die Zandvoort-renbaan aangemoedig; en hy het hulle beslis nie teleurgestel nie.

Toe die geruite vlag vir die sewende keer vanjaar vir hom geswaai het, was die boodskap baie duidelik in die daaropvolgende vuurwerkvertoning uitgespel: Max Verstappen is terug.

Ná die teleurstelling van Silverstone, Hongarye en die halfgebakte sukses van verlede week se Belgiese kortverhaal, het die Red Bull-ster gewys dat hy goed genoeg is om ’n F1-titel te wen.

Hy het nie net heel voor weggespring nie, maar hy was ook takties opgewasse teen die Mercedes-renspan se dubbeldoor-aanslag – Lewis Hamilton het uiteindelik tweede geëindig met Valtteri Bottas in die derde plek.

“Soos wat julle kan hoor, is dit ’n absolute ongelooflike ervaring. Ek is so gelukkig om hier te wen, veral omdat so baie mense dit van my verwag het,” het Verstappen ná die wedren gesê terwyl ’n see van oranje ondersteuners in die agtergrond feesvier.

Al het Hamilton ’n ekstra punt ingepalm omdat hy laat in die wedren die vinnigste om die Zandvoort-baan gejaag het, is Verstappen weer heel bo-aan die jaerspunteleer.

Ja, daar is nog ’n hele paar wedrenne op die horison, maar vandag brand die vreugdevure ongetwyfeld hoog in die Red Bull-kamp.

Die Italiaanse Grand Prix spring volgende Sondag om 15:00 weg.

  • Uitslae:
  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Valtteri Bottas (Mercedes)
  4. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  5. Charles Leclerc (Ferrari)
  6. Fernando Alonso (Alpine)
  7. Carlos Sainz (Ferrari)
  8. Sergio Perez (Red Bull)
  9. Esteban Ocon (Alpine)
  10. Lando Norris (McLaren)
  • Jaerspunteleer:
  1. Max Verstappen 224,5 punte
  2. Lewis Hamilton 221,5 punte
  3. Valtteri Bottas 123 punte
  4. Lando Norris 114 punte
  5. Sergio Perez 108 punte
  6. Charles Leclerc 92 punte
  7. Carlos Sainz 89,5 punte
  8. Pierre Gasly 66 punte
  9. Daniel Ricciardo 56 punte
  10. Fernando Alonso 46 punte
  • Vervaardigerspunteleer:
  1. Mercedes 310,5 punte
  2. Red Bull 303,5 punte
  3. McLaren 169 punte
  4. Ferrari 165,5 punte
  5. Alpine Renault 72 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Super Max, Super Max…!! Kniebuiger vêr agter kon nie byhou nie. Max het die teer geskroei.

Jasper

Hy kan bly wees Hamilton het hom nie in ‘n muur vas gestamp nie.

Boer

Dit is hoe n mens jou tuisveld wen. Nie soos Hamilton wat vir Max stap dat hy die muur tref teen 50 G nie.