Max laat kwik in Miami styg

Max Verstappen was eerste oor die wenstreep in Miami. Foto: Twitter.

F1-toeskouers het seker gister ’n paar keer die sonbrandroom nadergetrek, want Max Verstappen het gesorg dat die kwik beslis in Miami styg.

Die jong Nederlandse renjaer het sy tweede wedren op ’n streep gewen nadat hy éérs vir Carlos Sainz en tóé vir Charles Leclerc in hul Ferrari’s verbygesteek het. Hy het ook koelkop gebly toe die veiligheidsmotor ’n rukkie later in die resies ontplooi is.

Sodoende is hy nou binne trefafstand van Leclerc op die jaerspunteleer, terwyl Red Bull ook in Ferrari se truspieëltjie op die vervaardigerspunteleer is.

“Ek het ’n goeie wegspring gehad en sommer om die eerste draai ’n geleentheid gesien om verby Carlos te skuif. Gelukkig het dit gewerk!” het die verdedigende wêreldkampioen gesê.

Ondanks sy puik vertoning is Verstappen steeds bekommerd oor die betroubaarheid van sy span se renmotors. Sergio Perez het juis in die ander Red Bull oor ’n gebrek aan krag gekla.

“Daar is nog steeds ’n paar probleme wat ons sal moet uitstryk. Ons was vinnig, maar ek het in die oefenrondes gesukkel, terwyl Sergio ook met tye die wind van voor gekry het. Die motor het ongetwyfeld baie potensiaal, maar ons sal moet seker maak dat dit ook betroubaar is.”

Op sy beurt was Leclerc teleurgesteld met die manier waarop dinge uitgedraai het – in F1-kringe kan jy nie bekostig om ’n goeie plek op die wegspringrooster onder die maatemmer weg te steek nie.

“Red Bull se bande het net beter gewerk en ná ’n paar rondes was hulle doodeenvoudig net vinniger as ons gewees. Dit was ’n groot frustrasie want ons kon nie veel doen nie,” het die Ferrari-renjaer gesê.

Mercedes se Lewis Hamilton het beter vertoon en het die wedren in die sesde plek afgesluit. Sy jong spanmaat, George Russell, het egter weer in ’n hoër posisie klaargemaak.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Lewis Hamilton (Mercedes)
  7. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Alex Albon (Williams)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Charles Leclerc: 104 punte
  2. Max Verstappen: 85 punte
  3. Sergio Perez: 66 punte
  4. George Russell: 59 punte
  5. Carlos Sainz: 53 punte
  6. Lewis Hamilton: 36 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Ferrari: 157 punte
  2. Red Bull: 151 punte
  3. Mercedes: 95 punte
  4. McLaren: 46 punte
  5. Alfa Romeo: 31 punte
  6. Alpine: 26 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Semi-afgetree. Hy’s amper 40, het alles bereik wat kon bereik word in die sport en het alle rekords oortref wat oortref kan word. Ek dink nie hy’s meer so gemotiveerd nie veral nie as hy nog moet sukkel met ‘n kar wat nie reg is nie. Los dit vir die jongmanne en tree uit. Ek dink in elk geval hy gaan uittree na hierdie jaar se kompetisie.

Manie ·

Tog jammer hy kom nie naby Schumacher se “goeie sportmangees” rekord nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.