Max nou in pylvak van titeldroom

Max Verstappen. Foto: Twitter.

Max Verstappen het al 58 keer in sy F1-loopbaan op die podium gestaan en vanjaar is die geruite vlag reeds nege keer vir hom geswaai.

Maar hy het in Mexiko (drie wedrenne gelede) laas die septer geswaai en sedertdien is Lewis Hamilton en sy Mercedes weer ’n krag waarmee rekening gehou moet word.

Daar is nog net twee wedrenne op die F1-kalender oor en die Red Bull-renjaer sal alles in sy vermoë doen om die verdedigende wêreldkampioen van nóg ’n titel weg te hou.

Hoewel ’n see van oranje ondersteuners altyd gereed is om die jong Nederlander aan te moedig, is daar sommiges wat brom dat hy te aggressief op die renbaan is.

“Ek dink dit is belangrik om altyd getrou aan myself te wees; mense moet maar vir hulself besluit of hulle van my hou of nie en ek is nie hier om hulle te manipuleer nie,” het Verstappen gesê.

Daar is net agt punte tussen hom en Hamilton op die jaerspunteleer en sedert die Brit sy vyfde enjin in ontvangs geneem het, is hy haas onstuitbaar op die renbaan.

Tog beskik Verstappen oor genoeg wilskrag om tot die einde te veg.

“Ek is hier om te wen en die beste moontlike uitslag vir myself en vir die span te bewerkstellig. My benadering gaan nie verander bloot omdat sekere mense nie daarvan hou nie.”

O ja, daar is selfs ’n moontlikheid dat hy die wêreldtitel sommer reeds hierdie naweek in Saoedi-Arabië kan inoes.

Mits hy natuurlik eerstens wen. En die vinnigste ronde opstel. En as Hamilton sesde of laer eindig.

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 351, 5 punte
  2. Lewis Hamilton 343, 5 punte
  3. Valtteri Bottas 203 punte
  4. Sergio Perez 190 punte
  5. Lando Norris 153 punte
  6. Charles Leclerc 152 punte
  7. Carlos Sainz 145,5 punte
  8. Daniel Ricciardo 105 punte
  9. Pierre Gasly 92 punte
  10. Fernando Alonso 77 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Mercedes 546,5 punte
  2. Red Bull 541, 5 punte
  3. Ferrari 297,5punte
  4. McLaren 258 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Richard ·

Hy moet op sy pasoppens wees, want Hamilton sal hom weer van die baan ry soos by Silverstone. Hamilton is baie uitgeslape.

Vonkprop ·

Hamilton is ‘n gevalle held. Ou nuus. Verstappen is ‘n opkomende ster. Die oomblik toe Hamilton met BLM betrokke geraak het, het sy ster status verdof.

Boer ·

Max jy het my ondersteuning, ek kan nie ‘n persoon ondersteun met net een ras in sy oë nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.