Max se titel aan bestuursvernuf te danke

Max Verstappen kniel langs sy Red Bull-vuurwa nadat hy die beslissende wedren in Abu Dhabi gewen het. Foto: Twitter.

Volgens Lando Norris is Max Verstappen se wêreldtitel aan goeie bestuursvernuf en ’n tikkie geluk te danke. En nie omdat sy RB16B-renmotor oor meer woema as Lewis Hamilton se Mercedes beskik het nie.

“As ’n mens op die seisoen terugkyk, het Mercedes ongetwyfeld die sterker renmotor gehad. Maar Max het dalk hier en daar ’n tikkie meer geluk aan sy kant gehad, terwyl hy ook minder foute gemaak het,” het die McLaren-renjaer gesê.

Verstappen is vroeër op dramatiese wyse as die eerste Nederlandse wêreldkampioen aangewys toe hy eerste oor die eindstreep in Abu Dhabi gejaag het.

“Ek is bly vir Max. Hy het glad nie vir Lewis teruggestaan nie; ’n renjaer wat nie net oor baie meer ervaring beskik nie, maar ook ’n rits wêreldtitels agter sy naam het.”

Dit is nie die eerste keer vanjaar dat daar oor die uitstekende Mercedes-renmotor gepraat word nie; om vir die agtste keer met die vervaardigerstitel weg te stap is ’n merkwaardige prestasie.

Helmut Marko, die voormalige Oostenrykse renjaer wat deesdae deel van die Red Bull-span is, het ná die wedrenaksie in São Paulo (waartydens Hamilton moeiteloos sy pad van tiende na eerste oopgeveg het) gesê dat hy nog nooit só ’n kragtige Mercedes-enjin gesien het nie.

Christian Horner (Red Bull-spanbaas) het met Marko saamgestem en aangevoer dat dit onmoontlik is om by Hamilton kers vas te hou.

“Mercedes se spoed oor ’n reguit gedeelte van die pad met daardie nuwe enjin is werklik indrukwekkend. Nodeloos om te sê kon Max nie daarteen verdedig nie; dit is ’n kragtige wapen om in jou arsenaal te hê.”

Selfs Toto Wolff was in sy skik met die renmotor se vertoning.

“Dit is ongetwyfeld die beste Mercedes-pakket van die seisoen. Die kar is blitsig oor reguit gedeeltes en baie betroubaar om draaie,” het die veglustige Mercedes-spanbaas destyds gesê.

Valtteri Bottas het ook ná die Katarse Grand Prix aangevoer dat daar “verskille” tussen die twee Mercedes-renmotors is.

“My motor is nie meer heeltemal dieselfde as wat dit was nie, terwyl dit ook nie dieselfde as Lewis s’n is nie. Daar is klein verskille tussen die twee motors,” het Bottas gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.