Max spring eerste weg in Montreal

Max Verstappen. (Foto: Xavi Bonilla/DPPI via AFP)

Max Verstappen spring eerste weg in ʼn nat Montreal nadat die Red Bull-renjaer die beste in die kwalifiserende rondes van die Kanadese Grand Prix gedoen het.

Nico Hulkenberg sou aanvanklik saam met hom in die voorste linie aantree, maar die Haas-renjaer is met ʼn paar plekke op die wegspringrooster beboet omdat hy ʼn rooi vlag verontagsaam het.

Dit beteken dat Fernando Alonso tweede wegspring, gevolg deur Lewis Hamilton en George Russel.

Indien Verstappen die wedren wen, sal hy met net soveel wedrenseges as Ayrton Senna spog. Tog het Alonso belowe dat hy alles in die stryd sal werp om die vlieënde Nederlander in sy spore te probeer stuit.

“Ons het nou ʼn definitiewe kans om Red Bull onder druk te plaas. Tot dusver het hulle hopeloos te maklik gewen, maar hopelik kan ons nou ʼn bietjie beter vaar,” het die Spanjaard gesê.

Oudergewoonte was hy gereed met ʼn kwinkslag.

“Die enigste manier hoe ons so iets kan doen, is as ons twee sekondes agter hulle is; en nie 20 sekondes nie!”

Die wedren begin om vanaand om 20:00 en motorsportliefhebbers kan die aksie regstreeks op SuperSport volg.

Wegspringrooster:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Fernando Alonso (Aston Martin)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Nico Hulkenberg (Haas)
  6. Esteban Ocon (Alpine)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Oscar Piastri (McLaren)
  9. Alex Albon (Williams)
  10. Charles Leclerc (Ferrari)
  11. Carlos Sainz (Ferrari)
  12. Sergio Perez (Red Bull)
  13. Kevin Magnussen (Haas)
  14. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  15. Pierre Gasly (Alpine)
  16. Lance Stroll (Aston Martin)
  17. Nyck de Vries (AlphaTauri)
  18. Logan Sargeant (Williams)
  19. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  20. Zhou Guanyu (Alfa Romeo).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.