Max teiken beter vertonings op straatrenbane

Max Verstappen. (Foto: Lillian Suwanrumpha/AFP)

Max Verstappen het ná die finale wedren van die 2023-seisoen in Abu Dhabi gesê dat hy skoon emosioneel is om van sy RB19-vuurwa afskeid te neem.

Die F1-wêreldkampioen het vanjaar 19 van die 22 wedrenne agter die stuur van sy Red Bull-renmotor gewen en hy het ʼn algehele voorsprong van amper 300 punte op die punteleer geniet.

Tog meen hy dat Red Bull in die nuwe jaar kan verbeter.

“Wat die renmotor betref, weet ons wat ons swak punte is. Ons sal natuurlik hard daaraan werk, terwyl ons ook sal verseker dat ons sterk punte selfs beter word,” het Verstappen gesê.

Hy meen dat Red Bull veral beter in straatrenne kan vertoon en hy het na die Singapoer Grand Prix verwys om sy punt te staaf.

Dit was die enigste wedren waarin ʼn Red Bull-vuurwa nie die pyp gerook het nie.

Ferrari se Carlos Sainz het met die uiteindelike louere weggejaag, terwyl Verstappen met ʼn vyfde plek tevrede moes wees. Spanmaat Sergio Perez het agtste geëindig.

“In die geheel sukkel ons so ʼn bietjie in straatrenne. Kyk net na ons vertoning in Singapoer en dalk selfs in Las Vegas. Die renmotor is nie op sy beste op ʼn hobbelrige baan of wanneer daar op die rand van die renbaan gejaag word nie. Dit is beslis iets waaraan ons kan werk.”

Die F1-aksie begin amptelik weer op 2 Maart in Bahrein.

F1-kalender vir 2024:

2 Maart: Bahrein

9 Maart: Saoedi-Arabië

24 Maart: Australië

7 April: Japan

21 April: China

5 Mei: Miami

19 Mei: Emilia Romagna (Imola)

26 Mei: Monaco

9 Junie: Kanada

23 Junie: Spanje

30 Junie: Oostenryk

7 Julie: Verenigde Koninkryk

21 Julie: Hongarye

28 Julie: België

25 Augustus: Zandvoort

1 September: Italië

15 September: Azerbeidjan

22 September: Singapoer

20 Oktober: VSA

27 Oktober: Mexiko

3 November: Brasilië

23 November: Las Vegas

1 Desember: Katar

8 Desember: Abu Dhabi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.