Max wen kortste (en sekerlik natste) Grand Prix ooit

Max Verstappen is die uiteindelike wenner van die Belgiese Grand Prix. Foto: Kenzo Tribouillard/AFP.

Red Bull se Max Verstappen is die wenner van die kortste Grand Prix in F1-geskiedenis nadat reënweer gister amok in België gemaak het.

Dit is nie aldag dat die voorafgaande kwalifiserende ronde só ’n deurslaggewende rol speel nie en Verstappen kan sy sterre dank dat hy die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel het. Want die wedren, waar renjaers weens eendeweer nooit die spoednaald in die rooi kon druk nie, is uiteindelik ná net ’n paar rondes afgelas.

George Russell het sy Mercedes-kanse ’n hupstoot met die eerste podiumplek van sy loopbaan gegee, met Lewis Hamilton wat dan derde geëindig het. Die renjaers het egter nie volle punte vir die wedren ontvang nie.

“Noudat ek na alles kan terugkyk, besef ek net opnuut hoe belangrik die kwalifiserende sessie was om uiteindelik heel voor weg te spring,” het Verstappen gesê.

Volgens die Red Bull-renjaer het die reënweer dinge veral vanuit ’n sigbaarheidsoogpunt vir die renjaers bemoeilik.

“Dit bly egter ’n wenkans, maar dit is hoegenaamd nie hoe ’n mens wil wen nie. Die toeskouers verdien ongetwyfeld ’n pluimpie omdat hulle tot die heel einde in die aaklige weer bly wag het – hulle is eintlik die groot wenners van die dag.”

Die 23-jarige Nederlander het 12,5 punte verdien om Hamilton se algehele voorsprong op die jaerspunteleer tot net drie punte te laat krimp. Die verdedigende wêreldkampioen was egter nie te ingenome met hoe alles afgeloop het nie. Hy het die wedren onder meer as “’n klug” uitgekryt.

Volgens Hamilton is hy mal daaroor om in die reën te jaag, maar gister was net anders as enigiets wat hy al vantevore teëgekom het.

“Jy kon skaars die motor voor jou gesien het en die hele dag was eintlik net ’n ramp,” het Hamilton gesê.

Die Mercedes-renjaer meen dat geld die hardste gepraat het.

“Ons is eintlik net om een rede uitgestuur. Ons moes die wedren vanuit die staanspoor afgelas het en nie die renjaers se lewe in gevaar gestel het nie. Maar die belangrikste is eintlik om die toeskouers terug te betaal, want hulle is immers die hartklop van ons sport.”

  • Puntetoekenning van die Belgiese Grand Prix:
  1. Max Verstappen 12,5 punte
  2. George Russell 9 punte
  3. Lewis Hamilton 7,5 punte
  4. Daniel Ricciardo 6 punte
  5. Sebastian Vettel 5 punte
  • Jaerspunteleer:
  1. Lewis Hamilton (Mercedes) 202,5 punte
  2. Max Verstappen (Red Bull) 199,5 punte
  3. Lando Norris (McLaren) 113 punte
  4. Valtteri Bottas (Mercedes) 108 punte
  5. Sergio Perez (Red Bull) 104 punte
  6. Carlos Sainz (Ferrari) 83,5 punte
  7. Charles Leclerc (Ferrari) 82 punte
  8. Daniel Ricciardo (McLaren) 56 punte
  9. Pierre Gasly (Alphatauri Honda) 54 punte
  10. Esteban Ocon (Alpine Renault) 42 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fae Fubar

Tsk, ou suurpruim. Jy is nie die spil waar om die sport draai nie.

Boris

Ou Max-vloermoer-gooi het nou sy punte. Ek hoop van harte hy kan nou net aangaan sonder die alewige gekerm.

Racheltjie Debeer

Ag siestog Lewis, net omdat jy 3rde gekom het, is die wedren nou skielik ‘n klug! Sou jy nog so gevoel het as jy 1ste was? Ek dink nie so nie. En jy is reg, dit gaan oor geld, jy verdien immers 55 miljoen pond per jaar, dubbel soveel as jou spanmaat.

koos10

Ek staan verstom, daar is nie eers ‘n wedren nie en dan word LH uit gehaal.
Ek is nie ‘n fan van hom nie, maar ek dink hy is reg, die toeskouers moet hulle geld, of ‘n gedeelte daarvan terug kry. Die toegangs pryse is tussen 250 en 600 Euros (dis tussen R4300.00 en R10362.00) per kaartjie. Darem maar baie geld om te betaal vir 3 rondtes en ‘n verkoue!