Mayweather wil weer teen McGregor boks

Floyd Mayweather en Conor McGregor (Foto: AP /Frank Franklin II)

Die UFC-president Dana White is ’n man wat daaraan gewoond is om die omstrede te doen. Goeiste, hy het byvoorbeeld ’n eiland gekoop om sy hokgevegte aan te bied.

Nou sê hy dat ’n opvolggeveg tussen Floyd Mayweather en Conor McGregor ʼn moontlikheid is.

Toe Mayweather, nou 43 jaar oud, in 2017 vir McGregor in Las Vegas geklop het, het hy ongeveer $300 miljoen in sy sak gesteek. McGregor het op sy beurt – so tussendeur die twakpraatsessies – ’n heel skaflike vertoning gelewer en $100 miljoen vir sy moeite in die sak gesteek.

Volgens White praat hy en Mayweather nog gereeld met mekaar en albei partye stel in ’n tweede kragmeting belang.

“Ek weet dat Floyd definitief belangstel, maar niks kan gebeur terwyl Conor se uittrede staan nie,” het White gesê.

McGregor, een van die UFC se grootste sterre, het vroeër vanjaar sy uittrede aangekondig.

Die aankondiging het ondersteuners reg oor die wêreld laat kopkrap, want net vroeër vanjaar het hy nog vir Donald Cerrone binne slegs 40 sekondes met sy skouer katswink geslaan, terwyl hy binnekort teen Anderson Silva sou baklei het. Dan het daar ’n watertand-herontmoeting met Khabib Nurmagomedov ook op hom gewag.

“Dankie vir al die ongelooflike herinneringe en dit was ’n wonderlike tyd,” het hy destyds op Twitter gesê. Hy het ’n foto van homself en sy ma, Margaret, ná een van sy kampioenskapsgevegte by die inskrywing geplaas.

Daar was egter binne ’n japtrap weer sprake dat hy sy terugkeer kan maak: Hy het ’n foto van homself op sosiale media gelaai waar hy aansienlik meer gespierd as vantevore is, terwyl sy afrigter ook ’n beplande terugkeer aangemoedig het.

Dit is immers nie die eerste keer dat die veglustige Ier “uittree” nie en White is duidelik moeg vir al die McGregor-drama.

“Conor het sy uittrede aangekondig en totdat hy iets anders sê, gaan ek nie probeer om enige UFC-gevegte vir hom te reël nie. ”

Tog sorg hy vir baie geld in die UFC-koffers en ’n opvolgboksstryd teen Mayweather sal ongetwyfeld ’n paar rolspelers se bankrekeninge laat glimlag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

'n Simpelman ·

Die geveg waar Mayweather due heeltyd weggehardloop het.

Gaan hy weer weghardloop of fight die keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.