McGregor sê hy gaan nie weer baklei

Conor McGregor. Foto: Twitter.

Die omstrede Ierse hokvegter, Conor “Notorious” McGregor het sy uittrede op sosiale media aangekondig. Die gemengde gevegskunsatleet was een van die Ultimate Fighting Championship (UFC) se grootste sterre en hy was gereeld in hul hoofgevegte in aksie.

“Hallo almal, ek het besluit om my uittrede aan te kondig,” het sy Twitter-boodskap begin.

Die aankondiging het ondersteuners reg oor die wêreld laat kopkrap, want net vroeër vanjaar het hy nog vir Donald Cerrone binne slegs 40 sekondes met sy skouer katswink geslaan, terwyl hy binnekort teen Anderson Silva sou baklei het. Dan het daar ’n watertand-herontmoeting met Khabib Nurmagomedov ook op hom gewag.

“Dankie vir al die ongelooflike herinneringe en dit was ’n wonderlike tyd,” het hy verder gesê. Hy het ’n foto van homself en sy ma, Margaret, ná een van sy kampioenskap-gevegte by die inskrywing geplaas.

Maar, dit is nie die eerste keer wat die 31-jarige na bewering sy Tapout-hemp wou wegbêre nie.

Foto: Twitter.

McGregor het na raming meer as $200 miljoen in sy loopbaan bymekaar gemaak en hy is die enigste vegter om gelyktydig titels in twee verskillende gewigsklasse te verower. Sy boks- en bekgeveg met Floyd “Money” Mayweather het ook die verbeelding van die sportwêreld aangegryp.

Hy het juis in Maart 2019 ook uitgetree, net om ’n rukkie later vir arme Cerrone in UFC246 plat te slaan. Hy het in 2016 óók gesê genoeg is genoeg en dat hy besluit het om op ’n jong ouderdom die sport vaarwel te roep.

UFC-grootbaas, Dana White, het vroeër gesê dat die finansiële implikasies van die wêreldwye Covid-19-pandemie dalk McGregor se jongste besluit beïnvloed het.

“Tensy daar nie ’n wonderwerk is en die wêreld binne die volgende drie maande weer na normaal terugkeer nie – en ek twyfel sterk daaroor – weet ek nie of McGregor weer sal baklei nie,” het White gesê.

McGregor het in Maart onderneem om R18 miljoen se mediese toerusting aan hospitale te skenk vir die stryd teen Covid-19.

“Ek is in verwondering oor hierdie mense [medici]. Elkeen van hulle veg in die voorste linies en verrig ongelooflike werk. Dankie,” het hy geskryf nadat 80 Ierse dokters besluit het om uit Australië terug te keer om die virus in hul geboorteland te help beveg.

“Nou, meer as ooit vantevore, moet ons tuis bly en vir ons land se gesondheid en veiligheid bid. Ons eie lewens, asook dié van ons geliefdes, hang daarvan af. Ons moet mense aanmoedig om selfs in die afsonderingstydperk aan te hou oefen en gesond te eet,” het hy destyds geskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Totaal “overrated” Khabib sou hom weer getimmer het. Behalwe sy bekgevegte wat hy met 100m gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.