McGregor stuur onheilspellende boodskap aan Poirier

Conor McGregor. Foto: Steve Marcus/Getty Images/AFP.

Conor McGregor hou beslis van ’n tikkie omstredenheid. Die Ierse gemengdegevegskuns-atleet klim hierdie naweek weer saam met Dustin Poirier in ’n hok by UFC 264 in Las Vegas. En nadat hy in die twee se vorige geveg harpuis geruik het, sal hy oorgehaal wees om die bordjies te verhang.

Almal weet dat McGregor die koning van bekgevegte is en dat hy enigiets sal probeer om sy teenstander te ontsenu; hy het juis onlangs ’n vreemde boodskap aan Poirier gestuur.

“Dustin… peahead … I’m coming for you, peahead. … Silly hillbilly,” het McGregor gefluister in ’n stemboodskap wat hy op sosiale media gelaai het.

Hy noem al vir Poirier ’n “peahead” sedert hul eerste ontmoeting by UFC 178 – ’n geveg wat McGregor gewen het.

Oudergewoonte loop die 32-jarige Ier se selfvertrouebeker oor.

“Ek het hom in die oorspronklike geveg ore aangesit, maar in die tweede ontmoeting verloor. Nou het ons ’n trilogie van gevegte en ek voel baie, baie selfversekerd,” het McGregor gesê.

Dustin Poirier het vir Conor McGregor in die tweede ronde van hul vorige geveg geklop. Foto: Twitter.

Tog meen sommige kenners dat McGregor van vuishoue moet vergeet as hy vir Poirier wil klop.

“Hy sal bitter vinnig die kopskuif van boks na gemengde gevegskuns moet maak. Hy sal dit moet doen, want vuishoue sal beslis nie teen Dustin werk nie,” het die Amerikaanse bokser, Claressa Shields, gesê.

Poirier het hom juis in hul vorige ontmoeting met ’n paar goed berekende skoppe op die agtervoet gedwing en die “trots van Louisiana” glo dat McGregor nou moontlik met ’n soortgelyke skopstrategie vorendag sal kom.

“Hy het eerstehands die skade van sulke skoppe beleef en hoe dit die gang van ’n geveg beïnvloed. Ek dink hy gaan dit beslis teen my gebruik; ek het dit immers begin doen nadat teenstanders dieselfde strategie teen my gevolg het,” het Poirier gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MakersMark ·

Seker die leegste, mees oorskatte vegter ooit. Daarom maak hy soveel geraas. Dustin het hom dik getik in die laaste geveg hoop dit gebeur weer. Connor kan aftree en sy whiskey handelsmerk bemark.

MakersMark ·

Ek hoor nou die dag ‘n ou vertel toe Gerrie Coetzee swaargewig wêreldkampioen was, was hy maar nr 3 op die ranglys vir die boksburg noord hotel……..

Vrijburger ·

Terloops, verwys jou naam na ‘n spesiale verhouding met jou skepper, of na jou gunsteling wiskey?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.