McGregor teen Poirier in UFC-geveg

Conor McGregor. Foto: Twitter.

Kyk, Conor McGregor het sy uittrede al meer kere as die Undertaker aangekondig, maar ’n mens is vreemd genoeg steeds opgewonde wanneer hy in die UFC-hok klim.

Die “Notorious”, soos wat die veglustige Ier bekend staan, gaan hierdie naweek weer appels swaai wanneer hy Dustin Poirier in die hoofgeveg van UFC257 in Abu Dhabi aanvat.

En oudergewoonte sal McGregor weer oorloop van selfvertroue – hy het immers in 2014 vir Poirier binne twee minute ore aangesit.

“Ek hou van Dustin en ek dink hy is ’n goeie gemengde gevegskuns-atleet. Ek sou selfs so ver gaan om te sê dat hy een van die bestes is. Maar ek is steeds strate beter as hy. Ek voorspel dat ek binne 60 sekondes gaan wen,” het McGregor gesê.

Die omstrede Ierse hokvegter het in Junie 2020 sy uittrede vir die soveelste keer aangekondig.

“Hallo almal, ek het besluit om my uittrede aan te kondig,” het hy destyds sy Twitter-boodskap begin.

Die aankondiging het ondersteuners oor die hele wêreld laat kopkrap, want vroeër in 2020 het hy nog vir Donald Cerrone binne slegs 40 sekondes met sy skouer katswink geslaan, terwyl hy ook teen Anderson Silva sou baklei het. Dan het daar ’n watertand-herontmoeting met Khabib Nurmagomedov ook op hom gewag.

Meer onlangs het sy beplande boksgeveg teen Manny Pacquiao ook die hoofopskrifte van die sportblaaie gehaal.

McGregor het na raming meer as $200 miljoen in sy loopbaan bymekaargemaak en hy is die enigste vegter om gelyktydig titels in twee verskillende gewigsklasse te verower. Sy boks- en bekgeveg met Floyd “Money” Mayweather het ook die verbeelding van die sportwêreld aangegryp.

Maar anders as wat hy voorspel het, is sy komende geveg teen Poirier nie ’n uitgemaakte saak nie.

Die Amerikaner het net een van sy laaste agt gevegte verloor – en dit was teen die talentvolle Khabib Nurmagomedov.

Stel dus jou wekker om vroeg Sondagoggend wakker te word – ’n Conor McGregor-geveg sorg normaalweg vir lekker vermaak.

Volgens die UFC se amptelike webblad behoort die geveg Sondag om 05:00 (Suid-Afrikaanse tyd) te begin.

  • Suid-Afrika se Dricus du Plessis sal weer op 20 Maart in UFC-aksie wees wanneer hy die VSA se Trevin Giles in die hok aanvat.

Du Plessis het verlede jaar amok in sy Ultimate Fighting Championship-buiging teen Brasilië se Markus Perez gemaak toe hy die geveg in die eerste ronde op Dana White se Fight Island in Abu Dhabi gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Wens Poirier wil sy groot mond permanent toemaak. Hy is beter daaraan toe om sy whiskey te bemark. Hy irriteer mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.