Meder trots op haar rekordtyd in Japan

Suid-Afrika se Rebecca Meder. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Suid-Afrikaanse swemmers beskik ongetwyfeld oor die vermoë om vir hoogtepunte te sorg. Rebecca Meder se vertoning by die Wêreldkampioenskap in Japan het dié stelling onderstreep.

Die 20-jarige swemmer het haar eie Suid-Afrikaanse rekord in die uitdunronde van die 200 m-wisselslagitem verbeter. Haar goeie tyd van 2:10.95 het beteken dat sy die 11de vinnigste kwalifiserende tyd vir die halfeindstryd behaal het.

Hoewel sy nie op haar aanvanklike spogtyd kon voortbou nie – ʼn tyd van 2:11.16 beteken dat sy nie vir die eindronde kon kwalifiseer nie – is sy steeds in haar noppies met haar vertoning.

“Ek was skoon emosioneel toe ek die tyd gesien het; dit het nie so vinnig gevoel nie, maar alles het net vir my in plek geval. Om my eie nasionale rekord met net minder as ʼn halwe sekonde te verbeter beteken dat ʼn tydhindernis uit die weg geruim is – om ʼn 2:10 te swem is ongelooflik,” het Meder gesê.

Die feit dat sy met van die wêreld se voorste swemmers kragte gemeet het, het haar ook tot hoër hoogtes aangespoor. Sy het haarself immers vooraf herinner dat sy beslis met hulle kan saamgesels.

“Teen die einde moes ʼn mens alles in die stryd werp, maar ek is baie dankbaar om in dieselfde uitdunronde as ʼn paar Olimpiese kampioenswemmers te wees.”

Sy is ook tevrede met haar vertoning in die halfeindstryd.

“Dit is my tweede beste tyd nóg in die 200 m-wisselslag; ek kan nie daarna kyk en teleurgesteld voel nie. Dit is vir my wonderlik om as die tiende beste swemmer in die wêreld in dié item gereken te word en dinge lyk goed met die oog op die Olimpiese Spele in Parys.”

Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk is ook vandag in aksie tydens die 100 m-borsslaguitdunrondes.

Dan het Roland Schoeman 44ste geëindig in die 50-vlinderslagitem met sy tyd van 24.02 sekondes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.