Medvedev gee gewilde Griek die trekpas

Daniil Medvedev. Foto: Paul Crock/AFP.

Klinies.

Dít is hoe ’n mens Daniil Medvedev se vertoning teen Stefanos Tsitsipas in die halfeindstryd van die Australiese Ope kan beskryf.

Die kalm Rus het die Griek met 6-4, 6-2 en 7-5 geklop om sy plek in Sondag se eindstryd teen Novak Djokovic te bespreek.

Tsitsipas het al vantevore Medvedev se spel as “vervelig” uitgekryt, maar hy het vandag geen antwoord vir die 25-jarige se briljante houespel gehad nie.

Dit het soms gelyk asof Medvedev se raket met ’n GPS toegerus was, só akkuraat was hy. In die proses het hy sy 20ste agtereenvolgende wedstryd gewen en met nóg ’n sterspeler afgereken.

Net soos Djokovic is hy nie altyd gewild onder die toeskouers nie, maar die grootste Tsitsipas-ondersteuner moes ook later sy spel begin bewonder het.

Selfs toe die gewilde Griek uiteindelik laat in die derde stel sy voete gevind het, het Medvedev koelkop gebly en die skare stilgemaak deur ’n paar wenhoue te speel.

Vir Tsitsipas is daar nou ’n moeilike vraag om te beantwoord.

Wat is die beste – om ’n vervelige speler in die eindstryd te wees, of om as ’n gewilde speler ná die halfeindstryd huiswaarts te keer?

Sondag se eindstrydaksie begin om 10:30 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.