Medvedev maak geskiedenis in Londen

Daniil Medvedev. Foto: Glyn KIRK/AFP.

Novak Djokovic, Rafael Nadal en Dominic Thiem.

Drie van wêreldtennis se grootste sterre – en Daniil Medvedev gesorg dat elkeen in die stof byt op sy pad na ATP Finals-glorie die afgelope naweek in Londen.

Die 24-jarige Rus het met Djokovic in die groepfase afgereken, waarna hy met Nadal in die halfeindstryd afgereken het. Sondag het hy Thiem met 4-6, 7-6 en 6-4 in die eindstryd geklop.

“Dit is ongelooflik om met die beste spelers ter wêreld klaar te speel,” het hy ná die eindstryd gesê.

’n Grand Slam-titel ontwyk die jong Parys Meesters-kampioen nog, maar ná sy sterk vertoning in Londen weet hy waartoe hy in staat is.

“Dit wys my wat ek kan doen wanneer ek op my beste is; ek weet nou wat ek op die baan kan vermag. Die volgende uitdaging is natuurlik om op ’n gereelde grondslag soortgelyke prestasies te lewer.”

Nodeloos om te sê het die Finals-titel sy selfvertroue ’n groot hupstoot gegee.

“As jy vir my vóór die toernooi gesê het dat ek uiteindelik met die louere sal wegstap, sou ek jou waarskynlik nie geglo het nie. Dit het baie vir my selfvertroue beteken om die titel te wen en ek kan nie wag vir volgende jaar se Grand Slam-toernooie om te begin nie.”

Benewens bogenoemde drie spelers sal hy egter ook met Roger Federer te doen kry.

Die 39-jarige Federer het ná sy knie-operasies herstel en het onlangs ’n foto van homself op sosiale media gelaai waar hy weer aan sy vaardighede op die baan begin skaaf.

Hy beplan om sy terugkeer by die Australiese Ope te maak; ’n toernooi wat hy juis in die verlede gewen het toe hy ook sy terugkeer ná ’n besering gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.