Medvedev teen Tsitsipas: Hier kom ’n lokettreffer

Daniil Medvedev sal nie vir Stefanos Tsitsipas terugstaan nie. Foto: Martin Keep/AFP.

In die afwesigheid van Novak Djokovic het baie tennisliefhebbers gewonder of die Australiese Ope in Melbourne die kyk werd sou wees.

Maar die komende halfeindstryd-geveg tussen Stefanos Tsitsipas en Daniil Medvedev beloof om ’n tennis-lokettreffer te wees.

Want in die een hoek het jy ’n baie gewilde Griek wat tans die beste tennis van sy loopbaan speel. In die ander hoek het jy weer ’n Rus wat met robotagtige presisie sy teenstanders uitoorlê, terwyl Melbourne se skare hom beslis as die skurk in die verhaal beskou.

Al twee spelers het ook ’n uiteenlopende kwarteindstryd-pad gevolg om vir die halfeindstryd te kwalifiseer.

Tsitsipas het met amperse minagting vir Jannik Sinner (6-3, 6-4 en 6-2) van die baan gevee, terwyl Medvedev diep moes delf om Felix Auger-Aliassime (6-7, 3-6, 7-6, 7-5 en 6-4) te troef.

Om op die rolprent-tema voort te borduur: Tsitsipas se wedstryd kan met ’n Fast & Furious-film vergelyk word, terwyl Medvedev die hoofrol in The Great Escape vertolk het.

“Ek het nie my beste tennis gespeel nie en Felix het met ongelooflike spel vorendag gekom het. Ek het myself afgevra wat sou Novak in só ’n situasie doen omdat hy een van die grootste kampioene is. Dieselfde kan ook van Roger Federer en Rafa Nadal gesê word omdat hulle al so baie kere ’n haas uit die hoed op die baan gepluk het,” het die Rus ná sy moordende tweestryd gesê.

Griekeland se Stefanos Tsitsipas het met ’n paar ongelooflike houe teen Jannik Sinner vorendaggekom. Foto: Aaron Francis/AFP.

Die 25-jarige speler het daarna drie agtereenvolgende stelle gewen om die kragmeting in net minder as vyf uur te wen.

“Ek het net vir myself gesê dat ek hom hiervoor gaan laat werk. As hy wil wen, sal hy wraggies vir elke punt moet baklei. Gelukkig kon ek ook in die derde stel na ’n hoër rat oorskakel.”

Môre wag Tsitsipas vir hom in die halfeindstryd op die Rod Laver-baan.

Hoewel Medvedev ses van die agt wedstryde tussen die twee spelers gewen het, weet hy dat hy op sy beste sal moet wees om vir nóg ’n Grand Slam-eindstryd te kwalifiseer.

“Ek gaan so goed as moontlik probeer rus om gereed te wees vir Stefanos. Hy is ’n baie sterk speler.”

Op sy beurt het Tsitsipas gesê dat hy nie sommer van stryk gebring sal word nie.

“Ek voel goed oor my spel. Jy sal baie hard moet werk om my selfvertroue nou te blus,” het die jong Griek gesê.

Rafael Nadal en Matteo Berrettini is in die ander halfeindstryd.

Begin maar solank die springmielies skiet!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.