Medvedev, Tsitsipas loop rieme styf in Montreal

Daniil Medvedev het weer sy rieme teen Nick Kyrgios styf geloop. Foto: Minas Panagiotakis/Getty Images/AFP

Nick Kyrgios het sy derde wedstryd teen Daniil Medvedev gewen toe hy hul Kanadese kragmeting met 6-7, 6-4 en 6-2 beklink het.

Medvedev, die wêreld se voorste tennisspeler, kon nog net een keer in sy loopbaan met die vurige Aussie klaarspeel.

Kyrgios het veral met sy vlughouspel beïndruk en hy het omtrent ná elke afslaan na die net gestorm: ’n Uitgestrekte raket hier en ’n perfek berekende hou daar moes Medvedev grensloos irriteer het.

Dinge was naderhand seker met die Springbokke se voorspelbare wedstrydplan vergelykbaar – jy weet wat kom, maar nietemin het jy net nie altyd ’n antwoord gereed nie.

“Ek het ’n duidelike idee gehad van wat ek vandag wou doen en dinge het beter uitgedraai as wat ek verwag het. Daniil het weliswaar die eerste stel gewen, maar ek het daar ook ’n hele paar geleenthede gehad. Hopelik kan ek op hierdie sukses voortbou,” het Kyrgios gesê.

Jack Draper kan ook baie in sy skik met sy spel wees.

Die Brit het Stefanos Tsitsipas met 7-5 en 7-6 geklop; dit was die eerste keer dat hy ’n wedstryd teen ’n toptienspeler kon wen.

Diego Schwartzman en Andrey Rublev se veldtogte het ook gouer tot ’n einde gekom as wat hulle gehoop het.

Uitslae:

Nick Kyrgios klop Daniil Medvedev met 6-7, 6-4 en 6-2

Albert Ramos-Vinolas klop Diego Schwartzman met 6-4 en 6-2

Gaël Monfils klop Maxime Cressy met 7-6 en 7-6

Alex de Minaur klop Grigor Dimitrov met 7-6 en 7-5

Taylor Fritz klop Frances Tiafoe met 5-7, 6-1 en 6-4

Jack Draper klop Stefanos Tsitsipas met 7-5 en 7-6

Felix Auger-Aliassime klop Yoshihito Nishioka met 7-6 en 6-4

Dan Evans klop Andrey Rublev met 6-4 en 6-4.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Ek is bly hier is tennis-nuus te lees op MM. Dis maar ‘n skaars verskynsel in die sportkolomme! Baie soos krieket wat ook aan die agterspeen suig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.