Memoires van ’n Ironman-debutant

Werner Botha in aksie by die Ironman in Durban. Foto: Verskaf.

Werner Botha is ’n gevaarlike sportman: Hy was al ’n parkrun-wenner, het op ’n tyd spontaan begin gewigte optel (“net om te kyk hoe ek lyk as ek gim”) en was heelagter vir die Afrikaanse hoërskool op Amanzimtoti.

Nou het hy – te danke aan ’n ernstige enkelbesering wat hy verlede jaar gedurende ’n sokkerwedstryd by die kerk op die Hoëveld opgedoen het – sy debuut by die afgelope naweek se Ironman 70.3 in Durban gemaak.

“Ná my enkeloperasie het ek net besef hoe baie mens jou fiksheid moet waardeer. Daarom het ek vir die half-ysterman begin oefen,” het Botha gesê.

Dinge was egter nie té maklik nie en hy het gedurende die drafgedeelte erge krampe gekry.

“Die einste kramp het my tot laataand gepla!”

Om dié rede voel hy dat diegene wat beplan om binnekort hul eerste Ironman aan te pak, hul oefening moet kombineer. Met ander woorde, sodra jy klaar fietsgery het, gaan draf sommer dadelik ’n entjie; net sodat jou bene gewoond kan raak aan die skok van agtereenvolgende fietsry- en drafsessies.

“Baie mense dink die swem in die see is die moeilikste gedeelte van ’n Ironman, maar laat ek jou vertel; wanneer jy daaraan gewoond is om in ’n vuil dam in die binneland te swem, dan is die see eintlik ’n lekker uitdaging. Die soutwater laat mens ook dryf – dit het my gehelp,” sê hy.

“Ek het byvoorveeld vooraf geweet ek kan glad nie goed swem nie, daarom het ek eerstens aan my swemvaardighede geskaaf toe ek destyds begin oefen het.”

Die drafgedeelte was vir Botha sy grootste kopseer.

“Omdat ek nie onder die voorlopers was nie, moes ek noodgedwonge onder die middagson draf. En om smiddae in Durban te hardloop is nie lekker nie – selfs in die winter,” skerts hy.

Die oorgangspunte tussen die verskillende punte het ook vir hul eie probleme gesorg.

“By een van daardie plastiektoilethuisies het die deur aangedui dat die betrokke fasiliteit nie beset was nie. Met die intrapslag het ek egter besef dat die teenoorgestelde die waarheid is. Die belangrikste raad wat ek dus vir voornemende Ironman-deelnemers ná my eerste probeerslag het, is: Sluit daardie deur ordentlik toe!”

Sal hy dit weer doen?

“Beslis! Ek sal graag eendag die volle ysterman probeer doen.”

  • Meer as 3 000 atlete was in Durban in aksie.
  • Rohan Meyer was die manswenner met sy tyd van 04:07:47, terwyl Lauren Cannon die vroue-afdeling  met haar tyd van 04:37:43.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.