Mense geniet Clarkson se Hamilton-twiet

Lewis Hamilton is weer die voorloper op die jaerspunteleer. Foto: Ozan Kose/AFP.

Die Hongaarse Grand Prix het vir vele hoogtepunte gesorg. Daar was Valtteri Bottas se remblaps op ’n nat renbaan wat binne ’n oogwink vyf ander renjaers uitgeskakel het, Esteban Ocon se sege, Lewis Hamilton se terugvegpoging en sy bobaas tweestryd met ’n uitstekende Fernando Alonso.

Maar toe die wedren weer ná die Bottas-ongeluk hervat is, het ’n vreemde verskynsel F1-ondersteuners begroet.

Die weerstoestande het intussen aansienlik verbeter en die meeste van die oorblywende renjaers het na die kuipe gejaag om hul bande om te ruil vir iets wat beter by die omstandighede pas.

Die voormalige Top Gear-aanbieder, Jeremy Clarkson. Foto: Stefan Heunis/AFP.

Almal natuurlik, behalwe Hamilton.

Die 36-jarige Brit was, soos wat David Kramer sou sê, “Stoksielalleen” by die wegspringplek. En iemand soos Jeremy Clarkson sou beslis nie só ’n gulde geleentheid verby laat gaan nie; veral nie met die gebeure op Silverstone nog vars in die geheue nie.

“Ah. Clever. Only Hamilton on the track. That way he can’t hit anybody,” het die gewilde voormalige Top Gear-aanbieder op Twitter geskerts.

Derduisende mense het intussen die like-knoppie gedruk, terwyl meer as 5 500 sosialemediaverbruikers die twiet gedeel het.

O ja, Clarkson het ook gewonder of daar ooit ’n wedren sal wees waar ’n Mercedes-renjaer nie in iets vasry nie.

Intussen het Hamilton sy waardering vir Alonso se bestuursvernuf uitgespreek. Die 40-jarige Spanjaard het sy posisie uitstekend verdedig en die Mercedes-renjaer het gesukkel om verby te kom; hierdie kat-en-muis-speletjie het tyd en krag vermors en die Brit moes uiteindelik met ’n derde plek tevrede wees.

“Alonso is nie verniet ’n voormalige wêreldkampioen nie en hy sal verbete agter die stuur veg. Dit was ongelooflik gewees,” het Hamilton gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fae Fubar ·

O gaats, bring die vlugsout! Ek het kortstondig my bewussyn verloor van skok. Hamilton wat iemand aanprys en nie net kla oor hoe hy benadeel is nie? Ongehoord. Seker omdat hy weer voor is op die punteleer. Tsk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.