‘Mense moet weer droom en glo’

Grant Lottering se lewe getuig van hoop. Foto: Max Sullivan.

“As jou lewe ’n ernstige wending neem, het jy ’n keuse – omskep dit in ’n geleentheid of gee moed op.”

Bogenoemde stelling staan in vet letters op Grant Lottering se webblad; ’n merkwaardige Suid-Afrikaner wie se lewensverhaal van hoop, vasberadenheid en goedhartigheid getuig.

En nie een van dié aksiebelaaide hoofstukke handel oor moed verloor of tou opgooi nie.

Lottering, ’n kranige fietsryer en stigter van die I’m Possible Tour, het in 2013 by die dood omgedraai ná ’n ernstige ongeluk in die Alpe terwyl hy vir ’n groot fietsrykampioenskap voorberei het.

Hy het onder meer twee saamgestelde frakture aan sy werwelkolom, 12 frakture aan sy ribbes, ’n gebreekte sternum (borsbeen) en twee saamgestelde frakture aan sy regterfemur opgedoen terwyl sy longe ook platgeval het.

Die avonturier het by die dood omgedraai en mediese personeel het gesê dat dit vir hom onmoontlik sal wees om ooit weer fiets te ry.

Onderkry is egter min en ná 11 operasies en ure se rehabilitasiewerk is hy reeds weer geruime tyd terug in die saal terwyl hy ook verskeie avonture met sukses aangepak het.

Foto: Verskaf.

In 2016 het hy so op sy eie ’n ononderbroke rit van 1 000 km deur die Franse Alpe in minder as 50 uur voltooi.

Skaars twee jaar later het hy die lengte van die Franse Pireneë en Alpe binne 72 uur platgetrap – ’n eerste ter wêreld. Hy het in die proses 23 berge getem en 21 484 m geklim, terwyl hy skaars vier uur geslaap het.

Tussendeur alles het hy ook kanker vir ’n ses geslaan, terwyl sy liefdadigheidswerk en rol as motiveringspreker ’n verskil in baie se lewens maak.

Is enige uitdaging te groot of te moeilik vir Grant Lottering?

Lyk nie so nie.

Nou het hy op een van sy veeleisendste I’m Possible-avonture nóg vertrek: ’n Taai Kaapse draai deur die Klein Karoo, oor die Swartbergpas en deur die Overberg. En hy het vir homself ’n teiken van 48 uur gestel om die 835 km kaf te trap.

Alles ten bate van 34 kinders wat teen lewensgevaarlike siektes baklei en die Reach for a Dream-stigting.

“Nadat ek tydens ’n onlangse verkenningstog die roete per motor aangepak het, is ek maar net te bewus van die feit dat my agtste I’m Possible-toer ’n baie moeilike uitdaging gaan wees. Ek sal dag en nag moet trap, met min onderbrekings óf slaap; net een aaneenlopende (en pynlike) rit,” het Lottering gesê.

Volgens Lottering wil hy ander inspireer om nie moed te verloor nie.

“Ek wil hierdie uitdaging suksesvol voltooi – nie net vir die 34 kinders nie – maar ook vir almal wat hoop verloor het. Ek wil die storie van my tweede kans op die lewe en die berge wat ek in my eie lewe moes oorkom, gebruik om ander te motiveer om nooit moed te verloor nie. Ek wil hê mense moet weer droom en glo.”

  • Hou Maroela Media gerus volgende week dop om alles oor Grant se wedervaringe tydens sy jongste uitdaging te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.