Mercedes: ‘Azerbeidjan was pynlik om te aanskou’

Lewis Hamilton. Foto: Maxim Shemetov/AFP.

Mercedes se F1-span sukkel vir eens so ’n bietjie. Die afgelope naweek in Azerbeidjan was die eerste keer in twee jaar dat hulle geen punte ná ’n wedren gekry het nie – Valtteri Bottas was 12de en Lewis Hamilton 15de.

Dinge was ook nie te rooskleurig tydens die vorige wedren in Monaco nie – Hamilton was toe sewende, terwyl sy spanmaat nie die wedren kon voltooi nie.

En hoewel die wêreldkampioen Sondag op koers was om met die louere weg te stap ná Max Verstappen se ongeluk, het hy die geleentheid deur sy vingers laat glip.

Red Bull se Sergio Perez was die uiteindelik wenner van ’n aksiebelaaide en dramatiese wedren deur Bakoe se strate.

“Die hele gedoente het ongetwyfeld vir ’n bietjie nederigheid gesorg. Dit was een van die taaiste oomblikke waarin ek myself in ’n lang tyd bevind het – die een oomblik het ons al die punte gehad en die volgende minuut niks nie,” het Hamilton gesê.

Soos wat dinge tans in die vervaardigerskampioenskap staan, het Red Bull 174 punte, gevolg deur Mercedes met sy 148 punte. Ten spyte van sy ongeluk is Verstappen (105 punte) ook steeds die individuele voorloper.

Volgens Toto Wolff, Mercedes-spanbaas, was die Azerbeidjan-fiasko “pynlik” om te aanskou.

“Dit is nie net die voorval teen die einde van die wedren wat sorg dat ’n mens se frustrasievlakke die hoogte inskiet nie, maar ook die feit dat niemand se doelwitte bereik is nie,” het Wolff gesê.

“Ons kan nie aanhou om punte so weg te smyt nie. Dit is eenvoudig net nie aanvaarbaar nie.”

Christian Horner van Red Bull het egter ná die Monaco-wedren gewaarsku dat daar nog baie water in die see moet loop voordat die uiteindelike kampioen aangewys word.

Dit is dus van kardinale belang dat Verstappen en Perez binne trefafstand van Mercedes tot die einde van die seisoen bly.

“Ons het tien dae voor die volgende wedren in Frankryk. Die kampioenskapsdeur is nog wawyd oop en dit is nou eers die begin van die seisoen. Die frustrasie kan ook in vreugde verander,” het Wolff afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Miskien sal Mercedes en Hamilton nou bietjie terugkom aarde toe!

Patch ·

Ek is glad nie ‘n Hamilton-fan nie, hopeloos te windmakerig na my sin. So bly hy het nie die podium gemaak nie. Vettel se 2de plek op die podium is hopelik ‘n voorsmaak van wat ons nog hierdie seisoen kan sien.

Andries ·

Nie dat enigiemand treur oor die Sir se gatslag nie, maar die bandevervaardiger Pirelli skuld F1 bande wat nie bars nie.

Annakapat ·

‘n Paar van ons treur wél!
En vir die wat die vorige keer gesê het Lewis is ‘n swak verloorder, Max skop bande en gooi goed rond as hy verloor. Net maar ‘n bewys dat niemand op en af spring van vreugde as hulle verloor nie! Max is maar ewe veel windmakerig.
Ek sê maar net.

Jakes ·

Minder kniebuig ou Lewis, jou oorwinnings in F1 gaan baie minder wees vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.