Mercedes gee Ferrari bloedneus

Mercedes se Lewis Hamilton van Brittanje word met sjampanje gespuit deur Ferrari se Sebastian Vettel van Duitsland gedurende die toekenningseremonie ná die Chinese Formule Een Grand Prix in Sjanghai. (Foto: Ng Han Guan/AP)

Die Mercedes-span het Sondagoggend in Sjanghai sy oorheersing in vanjaar se Formule Een-reeks voortgesit toe Lewis Hamilton eerste geëindig het en sy spanmaat, Valtteri Bottas, ses sekondes agter hom in die tweede plek.

Hoe gaan hulle gestuit word, is sekerlik die vraag wat die ander spanne moet vra, al was dit slegs die derde wedren in vanjaar se reeks.

Sebastian Vettel (Ferrari) was derde, gevolg deur Max Verstappen (Red Bull), Charles Leclerc (Ferrari) en Pierre Gasly (Red Bull).

Dit was die derde opeenvolgende wedren dat Mercedes eerste en tweede geëindig het nadat die span ook die eerste twee plekke in Australië en ook in Bahrein gevul het.

Dit het laas in 1992 gebeur toe die Williams-wedrenspan ook in die eerste drie wedrenne van die jaar eerste en tweede was.

Dit was Hamilton, wat reeds by die wegspring vanuit die tweede wegspringposisie sy neus voor Bottas gekry het en die hele tyd voor gebly het, se 75ste F1-oorwinning.

Dit was ʼn geskiedkundige 1 000ste F1-wedren en om die kroon verder te span, was Hamilton ook in die 900ste wedren baas – boonop baas in ʼn ongelooflike 7,5% van alle F1-renne sedert 1950.

Dit was maar ʼn skrale troos vir Vettel, want hoewel dit sy eerste podiumplek vanjaar is, het Gasly in die laaste rondte op Vettel se vinnigste rondtedtyd verbeter om die bykomende punt wat op spel was, voor hom weg te raap.

Mercedes se Lewis Hamilton van Brittanje bestuur sy motor voor sy spanmaat Valtteri Bottas van Finland gedurende die Chinese Formule Een Grand Prix in Sjanghai. (Foto: Andy Wong/AP Photo)

Vettel se spanmaat, Leclerc, kan ook nie gelukkig wees nie nadat die span hom in die 11de ronde opdrag gegee dat Vettel hom kan verbysteek.

“Ek kan dit verstaan dat (Ferrari) iets anders probeer het, maar hulle het Leclerc ʼn bietjie kras behandel. Ek voel jammer vir hom,” het Nico Rosberg, ʼn voormalige wêreldkampioen, gesê.

“Ek is dankbaar om op die podium te wees, maar dit was taai om by Mercedes van die begin af by te hou,” het Vettel volgens die BBC gesê.

Hamilton het gesê dat die keerpunt reeds by die wegspring plaasgevind het.

Bottas het dit beaam: “Ek dink ek het die wedren by die wegspring verloor. Ek kon hom nie in die vuil lug inhaal nie, só dis is ʼn jammerte,” het hy gesê.

“Ons span se strategieë het bepaal dat die eerste drie wedrenne belangrik is. Dus moet ons kophou. Daar is só min tussen die spanne te kies en ek het geen idee hoe die volgende wedren sal uitdraai nie,” het Hamilton gesê.

Puntestand: 1. Lewis Hamilton (Mercedes, 68), 2. Valtteri Bottas (Mercedes, 62), 3. Sebastian Vettel (Ferrari, 39).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George in Bloem. ·

Ek sien dit gaan weer ‘n laaaaang seisoen wees vir my rooi karre???

Koos ·

Met die vorige ren het Charles bewys hy is vinniger as Vettel. Gister weer, en toe gooi Vettel sy “toys” en hy moet toe verby. Dis die 3de ren van 22 en die seisoen is nog lank. Ferrari se besluit was om die minste te sê sleg, en het hulle ‘n 4de plek gekos. Puik dinkwerk van Gasly en sy span met die bande ruil om die 1 punt te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.