Mercedes se meesterskuif laat Lewis seëvier

Lewis Hamilton jaag na die eerste plek by die Hongaarse Grand Prix. (Foto: Formula 1/Twitter)

Dis nie aldag dat Lewis Hamilton verkeerd bewys word nie.

 Sondagmiddag op Hongaroring in Hongarye het James Vowles, Mercedes se hoof-strateteeg, met ʼn meesterlike taktiese skuif (wat deur Hamilton bevraagteken is), aan die Brit sy 81ste Grand Prix-oorwinning en sy sewende sege in die Hongaarse Formule Een-ren besorg.

Maar dit kon so maklik geboemerang het.

 Hamilton het nie saamgestem met Vowles se besluit toe hy in die 49ste rondte beveel is om ʼn tweede keer in die kuipe aan te doen om ʼn tweede keer bande om te ruil nie, want Max Verstappen (Red Bull) was voor en besig om gas te gee.

Met net 20 rondtes oor en ʼn agterstand van byna 20 sekondes, het Hamilton nie heeltemal sy weg oopgesien nie.

Maar Vowles-hulle het vertroue in Hamilton se vermoë en sy motor gehad en hulle het geweet dat Red Bull se strategie van net een kuipestop ʼn dobbelspel kon wees … en hulle was in die kol.

Hamilton kon met sy harde bande Verstappen (medium bande) vinnig inhaal en in die 67ste rondte (drie rondtes voor die einde) maklik verbysteek en gerieflik wen met Verstappen weer die strooijonker.

Sebastian Vettel (Ferrari) was derde, gevolg deur sy Ferrari-spanmaat Charles Leclerc, Carlos Sainz (McLaren) en Piere Gasly (Red Bull).

Hamilton het kort nadat hy die ren gewen het sy span bedank en jammer aan Vowles gesê omdat hy sy besluit bevraagteken het.

Verstappen-hulle kon niks aan die vlieënde Mercedes doen om met sy medium bande voor te bly nie. Nadat hy verbygesteek is, het hy noodgedwonge ook kort voor die einde vir ʼn tweede kuipestop aangedoen.

Hamilton het in sy oorwinningstoespraak gesê dat hy doodmoeg was.

Hy het verwys na die agterstand van meer as 19 sekondes en het erken dat hy getwyfel het of hy Verstappen sou kon inhaal.

Hy het weer hulde gebring aan die ontslape Niki Lauda, wat ʼn lid van die Mercedes-wenspan was, en ʼn paar weke gelede oorlede is.

“As Niki vandag hier was, sou hy beslis sy hoed gelig het.”

Hamilton het met sy sewende sege in Hongarye nou drie oorwinnings meer as Michael Schumacher in Hongarye.

Hamilton kruip ook al hoe nader aan Schumacher se rekordtal van 91 Grand Prix-oorwinnings … al stem hy nie altyd saam met sy span se besluite nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos

Pieter, het jy die ren gekyk? Hamilton en Max was beide op harde bande (wit streep) op gehad teen rondte 49. Hamilton is kuipe tot en het meduim bande (geel streep) gekry met die opdrag, gaan vang vir Max. Max is nie noodgedwonge vir ‘n tweede keer kuipe toe nie. Dit was bereken en sagte bande (rooi streep) is gepas om die vinnigste rondte tyd en een ekstra punt te kry. Hy sou ook gemaklik met sy harde bande kon klaar maak want hy was ‘n minuut voor Vettel.

Steyn

As mens mooi opgelet het, het hamilton se DRS oopgemaak na die draai net toe hy verby Max is buite die DRS sone wat hom daai extra voordeel gegee het. Ander ding wat nie 2 is nie, hoe kan res van die veld 40 sekondes plus stadiger wees? Iets is nie lekker by F1 nie

koos

Pieter, as hy vir Bottas van die baan afgery het, het Leclerc mos ook, en hy het ook niks oorgekom nie, al het hy skade aan Bottas se kar aangerig? En nie Bottas of sy span het gekla nie, seker omdat hulle dit ook soos ek en die FIA (as ook Martin Brundle en almal by Sky) as ‘n ren insident gesien het. Hamilton is besig om Michael se rekords te bedreig, en ek dink dit het baie te doen met die anti Lewis beweging.